Die bokkie wat by die vyfde putjie gekry is. Foto verskaf
Deur Angelique Erasmus
Die karkas van ’n Kaapse grysduiker waarvan die hart verwyder is, is Sondag 24 Maart op die Oudtshoorn Gholfbaan gevind.
Werknemers van die gholfbaan het by die vyfde putjie op die gru-fonds afgekom. Die bokkie se hart het sowat ’n meter van die karkas gelê.
Danie Krügel, ’n voormalige luitenant-kolonel in die SAPD en hoof van die okkulte eenheid in die Vrystaat wat foto’s van die bokkie onder oë gehad het, sê die voorkoms van die karkas dui op moontlike satanistiese aktiwiteite, maar dat slegs ’n volledige ondersoek dit sal kan bevestig. “Die bloedlose karkas en hart wat langs die bokkie gelê het, is verseker aanduidings,” sê hy.
Volgens werknemers by die gholfbaan is dit die eerste keer dat hulle so iets sien. ’n Karkas van ’n wilde dier waarop hulle by ’n vorige geleentheid afgekom het, was glo te wyte aan kinders wat met honde wild gejag het.
Volgens Theresa van der Westhuizen, bewaringsdienste-bestuurder by CapeNature wat die bokkie vir Die Hoorn geïdentifiseer het, was die bokkie reeds volwasse. Dié bokkies kom algemeen in die streek voor.
Volgens haar is dit nie maklik om hierdie bokkies te vang nie, en wil dit voorkom of daar bytmerke aan die bokkie se pote is.
“Die merk waar die hart verwyder is, is definitief ’n snymerk en nie ’n bytmerk nie,” sê sy.
Van der Westhuizen het mense wat op karkasse van wilde diere afkom, versoek om dit aan CapeNature te rapporteer by tel 044 203 6300.