Een van die grootste hoogtepunte by die Klein Karoo Klassique oor die afgelope 10 jaar was verseker die konsert by die eerste Klassique in 2009 waar die tenoor Given Nkosi en die veelbekroonde sopraan Pretty Yende saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes opgetree het. Foto: Schalk le Roux

Die Gugulethu Tenore sing tydens die Klein Karoo Klassique in 2011 in die Jamstreet Amfi met die sneeubedekte Swartberge in die agtergrond. Foto: Grey Stopforth
Deur Liesel le Roux
DIT is 10 jaar later.
Ek onthou nog die opwinding in die laatwinter van 2009 toe die eerste Klein Karoo Klassique van 14 tot 16 Augustus in Oudtshoorn plaasgevind het.
Die sakeman Nic Barrow, by wie die gedagte van dié fees ontstaan het, het met die eerste fees aan Die Hoorn vertel die inspirasie vir dié fees kom van die tientalle klassieke musiekfeeste in Europa soos die Mozartfees in Salzburg (Oostenryk), die Strauss-fees in Wene (Oostenryk) en die Puccini-fees in Lucca (Italië).
Die eerste Klein Karoo Klassique is oor ’n tydperk van sowat 11 maande onder die leiding van Barrow as voorsitter deur ’n aantal begeesterde inwoners van die dorp gereël en bemark.
Onmisbaar in daardie eerste maande ook was die organisasievermoë en bekwaamheid van Barrow se super-bekwame regterhand, Antoinette le Roux.
Ek was bevoorreg om namens Die Hoorn vanaf die eerste vergadering in 2008 betrokke te wees by die geboorte van Klassique.
En toe begin dié nuwe fees, en ’n jong, nog onbekende Suid-Afrikaanse sopraan slaan almal se asems weg tydens die galakonsert die Saterdagaand.
Oor die jare was daar vele hoogtepunte – maar daardie optrede by die eerste fees van Pretty Yende saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes was iets om altyd te onthou. Yende, wat intussen internasionale roem verwerf het, het keer op keer die gehoor in die Burgersentrum op hul voete gehad.
In die eerste jjare het kuns en kos en wyn van die streek ’n groot rol by die fees gespeel met restaurante en wynkelders wat betrokke geraak het, terwyl daar gesmul is aan volstruis-, lams- en wildsvleis, inheemse kase en sjokolade, olywe en wonderlike wyne.
Feesgangers het ook tydens die eerste fees die talle kunsuitstallings baie goed ondersteun.
Na dié fees het die skilder en keramiekkunstenaar Thijs Nel vertel daar was die heel naweek ’n stroom mense by sy ateljee. Die kunstenaar Kobus Spies het teen die Sondag slegs enkele werke oorgehad wat nie verkoop is nie. Ook die ander uitstallings by die Queen’s Hotel, Bottega, ArtKaroo en Die Neelsie is druk besoek.
Nou in 2019 is Klassique (nog) nie so groot en nie so bekend soos ek, en waarskynlik ander ook, gedroom het nie.
En hoewel die ekonomie en droogte mense tans kniehalter en dit moeiliker maak om feeste te besoek, glo ek steeds dat die fees die potensiaal het om verder te groei en meer mense na dié Klein Karoo-dorpie te lok; selfs ook buitelandse toeriste.
Dié spesiale klassieke musiekfees verdien om te groei en te bloei hier in die Klein Karoo.