DIE hoogste puntetelling van alle Suid-Afrikaanse MCC’s (MCC: Methode Cap Classique) tot op datum. Dit is die prestasie wat Nic en Ferda Barrow se wynkelder in Franschhoek, Le Lude, se 2012 Vintage Cuvée by die onlangse 2019 Decanter-wynkompetisie in Londen behaal het.
Die Decanter World Wine Awards (DWWA) word beskou as die wêreld se grootste en mees invloedryke wynkompetisie. Die Le Lude 2012 Vintage Cuvée is by die kompetisie met 97 punte bekroon, wat dit ’n gesogte platinumtoekenning besorg het.
Le Lude is in 2011 deur Nic and Ferda Barrow begin met die doel om premium-gehalte vonkelwyn van klassieke sjampanje-variëteite te maak, en te spesialiseer in die skep van natuurlike bottel-gefermenteerde vonkelwyne. Dié wyne staan in Suid-Afrika bekend as Méthode Cap Classique.
Die wynmaker van Le Lude is Emma Bruwer.
Die 2012 Vintage Cuvée is gemaak van 83% chardonnay- and 17% pinot noir-druiwetrosse en vir 56 maande verouder. Slegs 2 361 bottels is vrygestel, met net 60 wat beskikbaar is by die Le Lude-proekamer.
Twee ander Le Lude-vonkelwyne is in dieselfde kompetisie bekroon – die Le Lude Rose Brut NV met 90 punte (silwer toekenning) en die Le Lude Reserve Brut NV met 88 punte (brons toekenning).
16 500 inskrywings vanoor die wêreld is vanjaar deur die DWWA ontvang.
Volgens Michael Hill Smith, wynmeester en mede-voorsitter van die DWWA, help die kompetisie produsente om hul profiel internasionaal te vestig en toon ’n DWWA-plakker op die bottel dat die wyn deeglik beoordeel is en die kwaliteit daarvan vertrou kan word.
Innovasie in die kelder en die onwrikbare strewe na perfeksie in die bottel maak Le Lude een van die wêreld se opwindendste nuwe produsente van Cap Classique.
“Toekennings soos hierdie toon dat ons pioniers-aanslag vrugte afwerp en vir ’n reputasie sorg van wyne wat internasionaal bekend word vir finesse, elegansie en verfyning,” sê Nic en Ferda.
• Le Lude is ’n korporatiewe borg van die Kaapse Filharmoniese Orkes.