Hoe verklaar u dit?
Van tyd tot tyd ontstaan daar mos ’n gonswoord wat eintlik maar soos die modes kom en gaan. Een van hulle is volhoubaar of volhoubaarheid.
So het dit nou gekom dat almal wat leef en beef en asem heef, die afgelope tyd baie bekommerd is oor die hoë werkloosheidsyfer. Ja dit is onrusbarend, selfs angswekkend, afhangend van deur wie en uit watter hoek daarna gekyk word.
As ek so deur ons dorp se strate beweeg en ek sien die massas mense wat doelloos deur die strate slenter, dan kry ek ’n pyn in my binnemens en is ek diep bekommerd oor die wel en weë en die toekoms van die werklose en werksku mense… dan wens ek so die president, sy ministers en die vakbondleiers kan dit ook sien… en miskien ’n bietjie nadink oor die situasie.
Ons in die Klein Karoo, en veral die Oudtshoorn-distrik, beleef tans ’n uitsonderlike lang en uitgerekte droogte. Ons as dorpsbewoners en veral die boeregemeenskap, voel dit aan ons hart en siel, asook ons beursies.
Boere kan jarelange getroue plaaswerkers nie verder bekostig nie omdat hulle nie die voorgeskrewe minimumlone kan betaal nie. Wat word nou van hulle? Die wat nie deur hulpskemas gevoed word nie, kom dorp toe om hier in die reeds oorbevolkte woongebiede met ’n tekort aan huise ’n heenkome te kom soek.
Waar gaan dit eindig? Misdaad, steel, roof en moord? Asof ons nie reeds meer as te veel daarvan daagliks beleef nie!
Goed, ek het nou genoeg van die donker prentjie geskilder. Die oplos-sing is redelik eenvoudig, bekostigbaar en kan op die lange duur, 20 tot 30 jaar, begin vrugte dra.
Stop die sinnelose kindertoelae! Dit is nie volhoubaar nie! Jy kan in elk geval nie ’n kind met die huidige toelaag, wat in die meeste gevalle nie by die kinders uitkom of tot hul voordeel aangewend word nie, grootmaak nie! Beperk die toelaag tot hoogstens twee kinders en gebruik liewer die oorskot geld, indien daar is, om die toelaag van bejaardes, wat hopelik ’n bydrae tot die land se opbou en ekonomie gelewer het, aan te vul.
Ek besef maar al te goed dat dit nie ’n gewilde besluit sal wees nie, maar is daar ’n alternatief?
Ons land het nie te min huise, skole, hospitale/klinieke, bejaardesorgsentrums of werksgeleenthede nie… Ons het te veel mense waarvan ’n groot persentasie onwettige buitelanders is!
Kyk maar net in ons eie dorp, en ek is seker in elke ander dorp, groot of klein, sal dieselfde toneel hom afspeel.
Dit is ’n skande dat mense uit vullissakke moet leef en op die stortingsterrein tussen rommel moet grawe om te kan oorleef. Laat staan maar vir die oomblik die diefstal en roof waarvan ons daagliks in koerante moet lees.
Dit behoort ’n verleentheid vir die regering te wees dat sy burgers uit vullissakke moet leef terwyl die ministers in blink motors rondrits en hul blind hou vir al die protesaksies, geregverdig of nie, wat nog meer skade veroorsaak.
Kom ons laat die sentrale regering vir die oomblik daar. Dit lyk in elk geval nie of hul enigsins ’n gewete het nie. Kom ons kyk na ons eie plaaslike regering, of as u wil, die Oudtshoorn Munisipaliteit.
Hier ry ook raadslede en amptenare in blink voertuie te midde van die ellende waarin inwoners moet leef en oorleef.
Raadslede kry onwerklik hoë toelaes/salarisse en steur hul nie noodwendig aan die kiesers wat vir hulle gestem het nie… net tot die volgende verkiesing wanneer hulle weer goed genoeg is om tot die gesogte posisies verkies te word.
Ons maak elke keer dieselfde fout en trap in die slagyster van mooi praatjies. Ek ook!
Ek daag die hele munisipale raad van Oudtshoorn uit, vanaf die burgemeester tot by die laags besoldigde werker, los jul onsinnige kleinlike binnegevegte en stel ’n voorbeeld aan die provinsiale en die sentrale regering hoe om ’n dorp en ’n gemeenskap uit die huidige gemors te laat opstaan tot voordeel van al die inwoners van Oudtshoorn.
Jammer as ek op tone trap, party seker met liddorings, maar dit is hoe ek as inwoner en belastingbetaler dit daagliks ervaar.
Ek sien nie die nodigheid om dit langer te verduur nie en hoop werklik dat dinge binnekort grootliks sal verbeter.
Ek weet in Oudtshoorn is baie be-kwame mense wat met vreugde hul insette sal lewer indien die raad hulp sou verlang en aanvaar.
– Bekommerde Pieter, Oudtshoorn
100 000 wees-bome?
Die inisiatief van die Oudtshoorn Besigheidskamer om 100 000 bome te plant, is ’n baie opwindende gedagte en ek ondersteun dit. Dit moet egter saamloop met opvoeding en die versorging van bome, want Oudtshoorn se inwoners is nog nie gereed om bome te “ontvang” nie.
Kyk na die vier voorbeelde:
Die bruinkareebome op die noordwal by die oostelike uitgang van die dorp het oor die laaste 25 jaar verdroog en kleiner geword – ek sal nou ’n sportkar moet koop om in die koelte stil te hou.
Daar is byvoorbeeld besighede langs Voortrekkerweg-Oos en Jacobsenstraat wat vere voel vir die bome langs die straat wat swaarkry. Dit is blykbaar altyd iemand anders se verantwoordelikheid.
Van die 94 suurpruimbome wat om die sport-/opleidingsterrein van die polisiekollege by die westelike uitgang van die dorp geplant is, het 36 gevrek.
Kan die rekruite wat “fiks” moet word, dan nie elke keer met vyf liter water hardloop en eers die bome natgooi nie?
Die Hoërskool Oudtshoorn se bome wat op ’n terrein tussen St John- en Kerkstraat vir hulle geplant is deur borgskappe van inwoners, word nie meer natgemaak nie.
Ek stap verby ’n afgetrede persoon wat onlangs twee bome op die sypaadjie by sy huis geplant het. Hy het twee jaar gewag vir toestemming. Toestemming is mos net nodig as jy wil kwaad doen? Vir goed doen het jy seker nie toestemming nodig nie?
Die Besigheidskamer moet lede – en ook besighede wat nie-lede is – aanmoedig om ten minste die bome om hulle besighede te versorg.
Die groot aantal bome wat beoog word om geplant te word, sal wees gelaat word indien inwoners hulle nie daartoe verbind om dit te versorg nie.
– Katot Meyer, Oudtshoorn
(Volgens Jaco Vorster, ondervoorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer, is dit een van die doelwitte van die 100 000-bome projek dat die ontvangers daarvan die verantwoordelikheid sal moet aanvaar om die bome te versorg. Bome sal slegs geplant word waar versorgers aandui dat hulle bereid is om die bome te versorg. – Redakteur)