KKNK-produksies wen groot by Fiëstas

VERSKEIE produksies wat in 2019 op die planke was by die KKNK het uitste­kend gevaar by kykNET se 10de Fiësta-pryse.

Die toekennings is Sondagaand aan teater- en musiekproduksies uitgedeel wat by verlede jaar se kunstefeeste gedebuteer het. Dit is regstreeks vanuit die Kunstekaap-operahuis in Kaapstad op kykNET uitgesaai.

Jakkals en Wolf Onbeperk, Statements After an Arrest Under the Immorality Act en Koningin Lear is produksies wat verlede jaar by die KKNK gedebuteer het en Sondagaand altesaam sewe Fiëstas verower het.

Die jong akteur Cantona James, deesdae te sien in die TV-program Arendsvlei, het die prys vir beste opkomende kunstenaar ontvang vir sy werk in Jakkals en Wolf Onbeperk en In Slavenhuis 39.

Wolf Britz is vir sy stel- en beligtings­ontwerp vir Statements After an Arrest Under the Immorality Act beloon.

Die aktrise en sanger Devonecia Swartz het Rolanda Marais, Anna-Mart van der Merwe en Nicola Hanekom uitgestof om weg te stap met die prys vir beste vroulike byspeler in Jakkals en Wolf Onbeperk.

Edwin van der Walt het sy eerste Fiësta ontvang as beste manlike byspeler vir sy uitstekende spel in Koningin Lear. Antjie Krog het die prys ontvang vir beste vertaling of verwerking van ’n bestaande werk vir haar vertaling van die Vlaamse skrywer Tom Lanoye se herverbeelding van Shakespeare se King Lear, by die KKNK op die planke gebring as Koningin Lear. En die briljante Antoinette Kellerman is aangewys as beste aktrise vir haar spel in die titelrol in dié stuk.

• Verskeie toneelstukke en musiekproduksies wat by ander kunstefeeste in 2019 gedebuteer en ’n Fiësta-prys of -benoe­ming ontvang het, sal voorts by vanjaar se KKNK te sien wees.

Die toneelstuk Queenie-hulle, geskryf deur Christo Davids en Lloyd Davids, het weggestap met die pryse vir beste aanbieding, beste akteur vir Brendon Daniels, en beste nuutgeskepte Afrikaanse teks. Dis ’n tragikomedie wat handel oor ’n groep bergies in Kaapstad wie se dag ont­wrig word deur buitengewone omstandighede.

Sandra Prinsloo kom KKNK toe met Kamphoer: Die Verhaal van Susan Nell, waarvoor sy die prys gewen het vir beste spel in ’n solo-vertoning. Dis gegrond op ’n ware verhaal wat onder meer tydens die Anglo-Boereoorlog afspeel en is geskoei op Francois Smit se roman Kamp­hoer en Nico Moolman se nie-fiksie-boek The Boer Whore.

Die musiekproduksie Eet Kreef! het gewen in die kategorie beste musiekgedrewe produksie – podium. Dit bring hulde aan Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band, 30 jaar nadat die album Eet Kreef! uitgereik is. Iets wat mu­siekliefhebbers nie durf misloop nie!

Verskeie ander Fiësta-benoemdes is ook op pad na die KKNK: ALTEmit acapella is vier altstemme met ’n unieke aanslag. Amanda Strydom is vir die 26ste keer by die KKNK met Amanda Strydom: Nostalgie. Die Soweto String Quartet is vanjaar benoem, en kom maak ’n draai in die Klein Karoo, so ook die talentvolle sanger in kitaarspeler Loki Rothman.

Benoemde toneelstukke wat KKNK toe kom: Die Dinge van ’n Kind met Cintaine Schutte, ’n verwerking van Marita van der Vyver se bekende boek; Tien Duisend Ton, ook met Cintaine Schutte en Albert Pretorius oor ’n jong paartjie wat op ’n komiese en tragiese manier worstel met die 21ste eeuse vrae oor kinders grootmaak, klimaatsverandering, familie, ver­andering, hoop en verraad; Die Hart Verklap, ’n solo-vertoning met Chris Vorster wat ’n verwerking en vertaling is van die Amerikaanse skrywer Edgar Allan Poe se kortverhaal The Tell-Tale Heart.