DIE eerste sintetiese hokkieveld op Oudtshoorn (astroveld) wat by Langenhoven Gimnasium geleë is, is byna klaar.
Die siviele konstruksiewerk aan die veld van 814 m², wat reeds verlede jaar Augustus begin het, is einde Januarie voltooi waarna die skoklaag en mat geïnstalleer kon word.
Dié gedugte taak is deur ’n groep Nederlanders met behulp van ’n plaaslike span aangepak en sal binne minder as ’n week voltooi wees.
Wayne Belt (29) en Joshua van der Aa (19) van die stad Oss het verlede Donderdag (7 Februarie) die skoklaag, wat onder die sintetiese mat kom, uitgerol.
Elke strook van die sintetiese mat is sowat vier meter breed en word met ’n spesiale gom aanmekaar geplak. Die gom raak binne 30 minute droog.
Die vakmanskap is van so ’n hoë gehalte dat die lasplekke nie eers gesien kan word nie.
Wit lyne en strepe word ook in die mat ingesny, en nie bo-op geplak of geverf nie.
Ben Cober (53), ook van Oss, het Sondag by die res van die span aangesluit.
Hy doen reeds 32 jaar lank hierdie gespesialiseerde werk regoor die wêreld en is die eienaar van Cober Sports, die maatskappy wat die bolaag aanmekaar sit.
Die mat is in België vervaardig. Dit het drie maande geduur om die mat volgens spesifikasies te maak. Daarna is dit Suid-Afrika toe ver-skeep en sewe weke later het dit op Oudtshoorn aangekom.
Met Die Hoorn se besoek aan die veld Maandag het die 80 ton sand, wat heel laaste bo-oor die mat gegooi word om die oppervlak hard en glad te maak, netjies in sakke gereed ge-staan vir gebruik.
Op ’n vraag oor hoe hulle Oudtshoorn ondervind, het Cober gesê dat hulle baie van die dorp hou en dat die hitte hulle nie veel gepla het nie.
Hy het vertel van sy heerlike ontvangs toe hy Sondag op Oudtshoorn aangekom het, met ’n eg Suid-Afrikaanse braai en ’n bier.
Al drie het gister (Woensdag) teruggevlieg Nederland toe.
Volgens die skoolhoof, Stephanus Potgieter, beoog hulle om spreiligte te installeer sodat wedstryde ook saans gespeel kan word. Die astroveld word afgerond met bedrading en plaveisel aan die buitekant. (Deur Angelique Erasmus)