Broers verkoop glo ses huise wat nie aan hulle behoort nie

’N STREEKHOFSAAK teen twee broers van Oudts­hoorn wat daarvan aangekla word dat hulle by ses geleenthede erwe of huise aan drie persone verkoop het wat hulle nie besit het nie, en die klaers die geld kwyt is, is deur landdros Ntsoki Moniin na 8 April uitgestel omdat een van hulle ongesteld was nie en nie by die hof kon wees nie.

Abraine Coerecius (40) en Antho­ny Coerecius (41) beken skuld op van die aanklagte. Abraine word ook daarvan aan­gekla dat hy hom as ’n prokureur voorgedoen het.

’n Bedrag van meer as R900 000 is by die saak betrokke. Die beweerde voorvalle het tussen 1 Julie en 7 Maart 2016 plaasgevind.

Volgens die klagstaat het Abraine hom tussen 1 en 29 Februarie 2016 voorgedoen as ’n prokureur met die naam Paul Pastor. Klag twee spruit uit ’n voorval tussen 1 en 23 Februarie 2016 toe hy glo ’n erf van sowat R47 000 aan Benjamin Vrey sou ver­koop en Vrey die bedrag verloor het.

Klag drie spruit uit die verkoop van nog ’n erf aan Vrey te Brenton, Knysna, teen R126 000.

Klag vier spruit uit die verkoop van ’n erf te Robberg Ridge Estate, Plettenbergbaai, teen R135 000 aan Golden Rewards 1605 CC.

Klag vyf is die verkoop van ’n erf te Fernwood Estate, Knysna, tussen 22 Februarie en 7 Maart 2016 teen R162 000.

Die sesde klag is die verkoop van ’n huis in Knysna aan Louis Booysen vir R160 000.

Klag sewe is een van geldwassery van R144 000 en klag agt een van bedrog, alternatief diefstal, vir die verkoop van ’n erf en belofte om ’n huis daarop te bou aan Lawak Abrahams, vir R160 772. (Deur Garnett Wicomb)