CALITZDORP se biblioteek en gemeenskapsaal in Bergsig is in ’n haglike toestand en hoewel geld al in die verlede vir opknapping geoormerk is, het niks daarvan gekom nie.
Die ruite is uitgegooi en grafitti ontsier die mure wat jare laas geverf is.
Die klippe op die dak van dié eens mooi biblioteek is tekenend van verval.
Volgens Jakob Willemse, Kannaland se DA-voorsitter, is daar al in die verlede geld opsy gesit om die geboue te herstel, maar het dit nooit gebeur nie.
“’n Biblioteek en ’n gemeenskapsaal is mos die trots van die gemeenskap. Die saal is altyd gebruik vir troues en onthale, maar deesdae is dit vandale wat in die geboue amok maak.”
Een van die inwoners, Dirk Abrahams, het bygevoeg: “Dis mos nie reg dat die geboue so vervalle lyk nie.
“Kinders moet mos gelok word na ’n mooi biblioteek om daar te gaan lees en te ontspan, maar nie in so ’n plek nie. Netnou val daardie klippe af en iemand kry dalk seer.”
Wilmie Viljoen van die kantoor van die munisipale bestuurder het by navraag net gesê dat eiendomme van die raad “geoormerk is vir herstel”. (Deur Deon Meyer)