Die Rivierbuurt van 2017 word vanjaar vervang deur die Kuierbuurt in Vredestraat. Foto verskaf
WEEKKAARTJIES vir die KKNK se splinternuwe Kuierbuurt word op volgende Maandag en Dinsdag (22 en 23 Januarie) teen ’n spesiale winskoopprys in die voorportaal van die Burgersentrum op Oudtshoorn verkoop. Die Kuierbuurt vervang die feesterrein wat voorheen as die Rivierbuurt bekend gestaan het.
“Ons moedig alle Oudtshoorniete aan om hierdie eksklusiewe Kuierbuurt weekkaartjie-aanbod op een van dié twee dae te koop, om sodoende seker te maak dat hulle ál sewe feesdae kan feesvier,” sê Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat die KKNK aanbied.
Die nuwe Kuierbuurt is geleë op die Rec en die Vredestraat Sportterrein en is vanjaar die tuiste van onder meer die Absa Kunsmark-stalletjies, die Huisgenoot-verhoog wat saans vermaak verskaf, die Castle Lager-verhoog waar musiek deur die dag aangebied word, Liplekker se wyn en deli-produkte, die ATKV-Speelbos met doendinge vir die jongspan, Uitkampteater-produksies en ander kroeë en rusareas.
“Weekkaartjies vir die Kuierbuurt word op dié twee dae teen slegs R175 per kaartjie verkoop teen ’n besparing van R80 per kaartjie. Dit is die ekwivalent van slegs R25 per dag vir ál die topvermaak in die feesterrein,” verduidelik Theart. “Ons hoop om alle Oudtshoorniete deur die loop van dié twee dae by die Burgersentrum te sien.”
Dié winskoopkaartjies is op Maandag van 09:00 tot 17:00 en Dinsdag van 09:00 tot 14:00 slegs in die voorportaal van die Burgersentrum – op die hoek van Langenhoven- en Voortrekkerweg – op Oudtshoorn te koop. Daar is geen beperking op die aantal kaartjies wat per persoon gekoop kan word nie.
• Die aandvertonings op die Huisgenoot-verhoog sluit in: Awê Kaktus (29 Maart, 19:30) met Mi Casa, Spoegwolf, Mathew Mole en Majozi; kykNET – Dans op die vlaktes (30 Maart, 19:30) met Kurt Darren, Leah, Craig Lucas (The Voice), Paxton (Idols), Germandt Geldenhuys (Binnelanders), Nadia Beukes (Getroud met Rugby), Stephanie Baartman (Getroud met Rugby) en ander; Karoo-nag (31 Maart, 19:30) met Adam Tas, Refentse, Joshua na die Reën, Karin Kortjé, Caroline Grace en Fatman; Boontoe: Engelstemme (1 April, 19:30) met Jo Black, Robbie Wessels, André Terblanche, Corlea Botha, Thembeka, Kyle Seconna, Hoërskool Oudtshoorn se Ad Astra-koor en orkes, Melissa van der Spuy, Tim Rankin, Henry Steele en Schalk van der Merwe; Sterrenag – Musiek met hart (2 April, 19:30) met Jay, Leah, Pieter Koen, Willem Botha, Lee Scott en ander; en Rymklets van Oos tot Wes (3 April 19:30) met HemelBesem, Yoma, Early B, Oxijin, DJ J-EFX, Yugi Yo en MC IXA. Die vertonings word as piekniek-ervarings aangebied en feesgangers kan hulle eie stoele en ’n kombers bring.
• Die feesprogram word Maandagaand op Oudtshoorn bekend gestel en kaartjieverkope open Dinsdag by Computicket, Shoprite / Checkers en House & Home. Die KKNK word oor die Paasnaweek van Donderdag 29 Maart tot Woensdag 4 April op Oudtshoorn aangebied.