’n Voorspoedige 2018

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

Met hierdie eerste uitgawe van Die Hoorn vir 2018 wens ons ons lesers ’n voorspoedige nuwe jaar toe.

Die woord “voorspoed” beteken volgens die Handwoordeboek van die Afri­kaanse Taal (HAT) ’n gunstige gang van sake; vlot verloop sonder moeilikhede; welvaart en sukses.

Veral die moeilikhede sal elkeen van ons waarskynlik wil systap.

Dink maar net hoe lekker sal dit wees as ’n hele jaar sonder moeilik­hede kan verloop! Soos ’n breë rivier sonder rotse en versnellings wat blinkglad en rustig verbystroom see toe.

Maar nou weet ons al almal: 365 dae sal nie verbygaan sonder sy kwota moeilikhede nie.

Mag daar egter in moeilike dae genoeg hande wees wat jou kan optel en dra. En mag jy self ook vanjaar die voorreg hê om ander op te help en by te staan by die moelikhede verby.

Warmte en waterskaarste 

Twee kwessies wat altyd aan die begin van ’n nuwe jaar in die Klein Karoo en Karoo ter sprake is, is die warm weer hierdie tyd van die jaar, en die beskikbaarheid van water.

Omdat die somer die droogste tyd in ons streek is, is daar in Januarie altyd kommer oor water.

Vanjaar neem dié kommer egter krisisafmetings op Prins Albert aan, met die dorp wat vasgevang is in ’n warm somer met net geringe waterbronne tot beskikking.

“Ek sien hoe my tuin voor my tot niet gaan,” beskryf ’n inwoner vandeesweek die daaglikse sigbare invloed van die droogte in Prins Albert aan Die Hoorn.

Daar is met reg kommer oor die onlangse bestuur van water op Prins Albert. Inwoners is nie gewaarsku oor die dreigende waterkrisis voordat dit te laat was om voorkomend op te tree nie.

Leiers van dorpsrade in ons streek het ’n groot verantwoordelikheid rond­om die bestuur van die streek se waterbronne.
Mag almal ’n les leer uit wat op Prins Albert gebeur het.