Johan de Jager. Foto verskaf
Deur Liesel le Roux
’N BEKENDE en geliefde inwoner van Oudtshoorn, Johan de Jager (74) is verlede week oorlede nadat hy ’n hartaanval gekry het terwyl hy by een van sy seuns en sy gesin in Kaapstad gekuier het.
De Jager, wat op Oudtshoorn gebore en getoë is, was sy lewe lank in die korttermynversekeringsbedryf. Hy het eers by Trust Bank gewerk en in 1978 ’n kantoor vir Santam op Oudtshoorn geopen. Hy is in die vroeë 1990’s na Absa waar hy tot met sy aftrede twee jaar gelede gewerk het.
Hy was baie betrokke by sport-klubs en binne gemeenskapsorganisasies. De Jager het 40 jaar op die bestuur van die Oudtshoorn Rugbyklub gedien, en was ’n bestuurslid van SWD Krieket. In sy jonger dae was hy betrokke by die Lions, die OOV-bestuur van die Hoërskool Oudtshoorn en was hy jare lank diaken en ouderling in sy kerk.
“Hy was lief om te help,” sê De Jager se eggenoot, Joey.
Sy sê haar man was nog gesond toe hulle twee verlede Maandag Kaapstad toe gery het om by hul oudste seun, Morné, te gaan kuier. Maandagnag het hy egter sleg begin voel en Dinsdagmiddag ’n dokter gaan spreek. Daar is vasgestel dat hy ’n hartaanval gehad het en is hy in die Mediclinic Panorama opgeneem.
Sy seun Sean vertel dat hulle teen sesuur die middag verneem het dat dit goed gaan met sy pa. “Morné het die hospitaal gebel en hulle het vir hom gesê my pa is vir ’n angiogram geneem, maar dat dit goed gaan met hom. Toe my ma egter kort daarna my pa in die hospitaal wou besoek, het hulle haar gevra om ’n bietjie te wag, en het hulle kort daarna vir haar kom sê dat hy gesterf het.”
Sean sê klaarblyklik was sy pa se hartspier verswak deur die hartaanval en het ’n hartklep geskeur toe hy naar geword het van kos en gebraak het.
• ’n Roudiens vir De Jager word Saterdag om 10:00 in die NG Kerk Oudtshoorn-Wes gehou. Hy word oorleef deur sy vrou, Joey, twee seuns, Morné en Sean, en vier kleinkinders.