
Van die skrywers wat op Oudtshoorn te sien gaan wees, is bo van links is Abraham de Vries, Carel van der Merwe, Dana Snyman en Shirmoney Rhode, en regs Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker. Foto’s verskaf.
Deur Marlene Malan
’N BOEKEPROGRAM uit die boonste rakke. Dis wat die KKNK feesgangers beloof by vanjaar se 23ste kunstefees op Oudtshoorn. Daniel Hugo, digter en vertaler wat deesdae in Prins Albert in die Groot Karoo woon, het vir die tweede jaar dié program saamgestel ná verlede jaar se suksesvolle boekgespreksreeks. “Ons probeer soveel moontlik genres dek, sodat daar iets is vir elke boekesmaak,” sê Hugo.
Daar is elke dag twee gesprekke en geleentheid vir lesers om hul gunsteling-skrywers te ontmoet, naamlik 11:00 en 14:00. Die aanbiedings is gratis.
Al die boeke wat bespreek word, het die afgelope jaar verskyn – die jongste twee weke gelede, naamlik Turning Point, deur Theuns Eloff, ’n vertaling van sy boek Wat nou, Suid-Afrika, maar met drie hoofstukke bygeskryf. Ander boeke wat die afgelope twaalf maande aandag getrek het en topverkoperlyste gehaal het, is Elders (Ernst Gründling) en In die blou kamp en Onder die radar (Dana Snyman), Historikus (Hermann Giliomee), Soettand (Flori Schrikker en Koelsoem Kamalie), Die Grensoorlog (Willem Steenkamp), Koors (Deon Meyer), Offerlam en Offerande (Chanette Paul), Nomme 20, Delphistraat (Shirmoney Rhode) en Kaaps is Hollands (Gaireyah Fredericks), Donker stroom (Carel van der Merwe) en Emily Hobhouse (Elsabé Brits), Melk die heilige koeie (Deon Maas), Hitler, Verwoerd, Mandela and me (Marianne Thamm), Soos familie en Ons Japie: Die Boere-Oorlogdagboek van Anna Barry (Ena Jansen).
Die Ladismitters Abraham de Vries en Peter Veldsman tree in gesprek met prof Wium van Zyl, by geleentheid van onderskeidelik hul 80ste en 75ste verjaardag. Die Klein-Karoo het ’n deurslaggewende rol gespeel in hul loopbane en lewens as kortverhaalskrywer en kosskrywer, sê hulle – ’n belangrike aspek wat in hul gesprek belig sal word.
Tertius Kapp (dramaturg en uitgewer), Nicol Stassen (uitgewer) en Marthinus Basson (regisseur) gaan antwoorde gee op ’n belangrike vraag in die Afrikaanse dramawêreld: Terwyl soveel toneelstukke ons land se verhoë haal, word baie min van daardie tekste in boekvorm gepubliseer – waarom?
Hugo sê die scoop van die gespreksreeks is dat die romanskrywer Eben Venter – ’n oud-Prins Alberter – spesiaal na Suid-Afrika kom om aan die KKNK-skrywersaanbiedings deel te neem. “Sy roman Wolf, wolf is een van Afrikaans se bestes. Wolf, wolf se Engelse vertaling, sowel as die vertaling van Horrelpoot as Trencherman, kry uitstekende resensies oorsee. En Eben se volgende boek, Groen soos die hemel daarbo, verskyn binnekort by Tafelberg.”
“Ons boekgespreksreeks maak die skrywers lewendig vir hul gehore. Die KKNK wil graag ons skrywers, veral Afrikaanse skrywers, aan hul lesers bekend stel,” sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk. Die boekwinkel en boekgesprekke is vanjaar weer in die Rembrandt-saal by die CP Nel-museum en word weer deur Louis en Erika Fourie van PNA bedryf. Die ATKV bied bemarkingsondersteuning, en daarom staan dit as die ATKV-Boeke-oase bekend.