Steffie le Roux het altyd groot gedroom

Steffie le Roux

Steffie le Roux

Deur Ilze-Mari Gründling
DAAR het baie water in die see geloop sedert Steffie le Roux die eerste keer as graad eentjie in ‘n groen skoolrokkie alleen gesing het.

Dié gebore Oudtshoorniet is vanjaar saam met Les Javan by die KKNK te sien in ’n produksie in die Windpomp Restaurantteater. Sy sal ook op die RSG-verhoog sing.

Steffie sê sy het waarskynlik haar ouers – André le Roux van Oudtshoorn en Annemarie le Roux van George – soms grys hare gegee.

“Dit is vir geen ouer maklik om al die senuwees en bekommernisse bymekaar te hou met ’n ‘kunstenaars-kind’ in die familie nie. Hulle het baie hard gewerk, maar het my altyd ondersteun in dit wat vir my goed en lekker was.”

Sy vertel die feit dat sy by die voormalige privaatskool op die dorp, Principia Kollege, drama, musiek en kuns kon neem, het ’n groot invloed op haar lewe gehad. Hoewel daar nie soveel geleenthede in ’n klein dorp soos Oudtshoorn is nie, het Steffie elke geleentheid aangegryp.

“Skoolkonserte, sang- en kunskompetisies en Kersfees in die kerk. My ma het my elke Vrydag George toe geneem vir dwarsfluitles en na die oefeninge van die Suid-Kaap Jeugkoor. Ek het elke jaar deelgeneem aan Principia Kollege se jaarlikse musiekblyspel, en verder het ek maar altyd groot gedroom.”

Na skool het Steffie as au pair in Duitsland gewerk en terselfdertyd tjello- en sangopleiding by die Studienkreiss Musikhochschule ontvang. Daarna het sy haar universiteitsdiploma in musiek aan die Noordwes-Universiteit verwerf, waar sy ook lid was van die Alabama Studentegeselskap wat regoor die land getoer het.
Die kunstenaarswêreld is nie maklik nie, vertel sy. Vryskutwerk, soos drama en musiek, word nie altyd gesien as “ordentlike” werk nie, maar eerder as ’n stokperdjie.

“Ons wêreld is baie onvoorspelbaar en deurmekaar, en ek dink nie almal verstaan altyd hoe dinge werk en gebeur in so ’n wêreld nie. Ek lag altyd in my mou vir mense wat dink my lewe is in goud gedoop met sakke vol geld en pêrels om die nek, net omdat ek op die televisie was of in ’n fliek gespeel het.”

Steffie vertel dat dit aanvanklik moeilik was om positief en opgewonde te bly oor haar werk.

“Dít, terwyl die res van my vriende en familie van agt tot vyf netjies geklee in hul kantore sit en werk. Ek het ook moed verloor wanneer geleenthede nie gereeld oor my pad gekom het en ek nie my rekeninge aan die einde van elke maand kon betaal nie. Die oomblik egter toe ek self besluit het dat niks en niemand my sal onderkry nie en dat ek baie trots op myself is en op dit wat ek doen, het my prentjie al hoe mooier begin word.”

Steffie vertel dat sy van kindsbeen af gemaklik as om ook alleen te wees.

“Uit die maag uit lag kon ek baie goed doen en stilwees was ’n stokperdjie – ek kon myself besig hou sonder om afgeskeep of eensaam te voel. Ek het tydens gesprekke meestal stilgebly en daarna ’n prentjie gaan teken of ’n liedjie geskryf. Ek het meer waargeneem as deelgeneem. Ek kon dit altyd regkry om na my eie wêreld te verdwyn, daar waar alles goed, mooi en sag was. Ek was ’n kreatiewe en bont kind, maar ’n gelukkige kind.”

Sy sê sy het altyd gedroom om ’n aktrise en sanger te wees.

“Van kleins af het ek altyd voor die spieël gestaan en gekyk hoeveel verskillende gesigte ek kan trek, en elke gesig het ’n spesifieke stem en manier van praat gehad!”

Sy was ook altyd lief daarvoor om stories te vertel.

“My eerste solo was Stuur Groete aan Mannetjies Roux, in standerd een met my groen skoolrokkie. Juffrou Ria le Roux was my eerste musiekjuffrou, en kon klasgee met liefde en passie. Sy het ’n manier gehad om ’n mens soos ’n superster te laat voel, en van toe af het ek geweet ek wil nes skrop op die verhoog.”

As liedjieskrywer en aktrise soek sy altyd inspirasie om te skryf, alhoewel sy ’n paar rolmodelle het.

“Musiek van Laurika Rauch, Stef Bos en Coenie de Villiers was maar nog altyd deel van my inspirasie, omdat die wysies en woorde beide waardevol en sinvol is. Akteurs soos Annamart van der Merwe en Meryl Streep verstom my elke keer. Ek dra iets van alles en almal saam met my, en sorg dat ek my eie identiteit en manier van doen het.”

Sy is nog nie gewoond aan die kollig nie.

“Ek word tot vandag toe nog kinderlik opgewonde oor alles. Dit is onsettend interessant om te sien hoe dit agter die skerms van ’n film werk. Ek kry altyd raas in ’n produksie, want ek is altyd laat vir my volgende toneel. Ek staan my so en vergaap aan die vloere van teaters wat heen en weer en op en af skuif dat die ander akteurs my altyd moet kom roep en sê ek moet op die verhoog wees!”

Steffie het haar eie musiekakademie geopen en vertel dat sy ’n juffrou met ’n twist is. “Ek is vreeslik lief vir kinders en dis vir my so lekker om te sien hoe ’n kind passievol kan wees oor die lewe.”

By haar akademie is drama, musiek en kuns alles verpligtend. Volgens Steffie is alles vervleg.

“Dit is vir my altyd baie interessant hoe verkeerd ons ’n kind soms kan opsom. Baie van my leerlinge het byvoorbeeld gekom vir musiek of sang, maar agtergekom dat hulle ’n baie groter liefde vir kuns of drama het.”

Sy sê sy wil so kinders blootstel aan ’n wyer spektrum.

• Steffie le Roux is te sien in die produksie, Steffie en Les Javan, op 12, 13 en 14 April by die Windpomp Restaurantteater, en ook op die RSG-verhoog op Sondag, 9 April, om 16:30, asook op Vrydag, 14 April, om 16:00.