Die program vir die 26ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees wat van 23 tot 29 Maart 2020 op Oudtshoorn plaasvind, bied uiteenlopende en uitstaande vermaak vir die hele gesin.
Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk wat die KKNK aanbied, sê die feesprogram vir 2020 is saamgestel “om aan ieder en elk iets te bied. Ons wil hê families en vriende moet hier in die Klein Karoo kan kom ontspan en ontsnap van die alledaagse. Daar word ook gratis vermaak en gesprekke aangebied en jy kan die fees beleef sonder om jou sak te breek”, sê hy.
Nicola Hanekom is ná ’n paar jaar se afwesigheid terug by die fees met ’n plekspesifieke toneelstuk Mirre en Aalwyn. Hanekom is bekend vir haar plekspesifieke trilogie (Babel, Lot en Betésda) waarmee sy groot sukses oor die jare by die KKNK behaal het. Vinette Ebrahim en Amalia Uys is van die akteurs wat in dié debuutproduksie te siene is.
Opdrifsel is nog ’n nuwe teks wat deur die skrywer Philip Rademeyer geskryf is. Hy is ook die regisseur. Die toneelstuk handel oor ’n ouerpaar, gespeel deur Tinarie van Wyk Loots en Brendon Daniels, wat die dood van hul tienerseun verwerk.
Die bekende teaterregisseur, skrywer en aktrise Lizz Meiring gee in Die Atleet lewe aan ’n inspirerende ware lewensverhaal van ’n jong weeskind en ’n ouer vrou en hoe hulle albei se lewens ver-ander is deur mekaar en atletiek.
Anna-Mart van der Merwe, Stian Bam en André Roothman is te sien in een van Europa se mees gevierde teaterskrywers Lars Norén se Terminaal 3 met regie deur Marthinus Basson.
Karatara is nóg ’n debuut aangebied deur die Figure of 8-geselskap, wat handel oor verlies van die gemeenskap ná die Knysna-brande.
Queenie-hulle deur Christo Davids, met oa Jill Levenberg, en Tien Duisend Ton met Cintaine Schutte en Albert Pretorius is ook te sien. Albei toneelstukke is benoem vir ’n hele paar KykNET Fiesta-pryse, onder meer beste aanbieding.
Daar is ook ’n hele paar solo-stukke onder meer Sandra Pinsloo in Kamphoer, Cintaine Schutte in Die Dinge van ’n Kind, Hannes van Wyk in Sê Groete vir Ma, Chris Vorster in Die hart verklap, Dowwe Dolla en Marion Holm. Zolani Maholi, bekend as hoofsanger van Freshly Ground, bring ook haar autobiografiese en inspire-rende solo-vertoning The One Who Sings na die fees.
Gehore kan ook vir Dawid Minnaar en Jana Cilliers sien in Wessel Pretorius se Wilde-Als, Rehane Abrahams is te sien in Brandbaar en Frank Opperman en Henriëtta Gryffenberg is te sien in Lara Foot se Die vermoeienis van Vlerke.
Op die musiekfront kan feesgangers ’n allegaartjie van musiekgenres verwag. Nuwe musiek-produksies sluit in Smeltkroes met onder andere Luna Paige, Ramon Alexander, Frazer Barry en Jolyn Philips onder regie van Nicole Holm. Schalk Joubert: 25 jaar met ’n baskitaar is Schalk Joubert se reis oor 25 jaar as musiekverwerker en musi-kant. Hy is te sien saam met Anton Goosen, Koos Kombuis, Gert Vlok Nel en vele ander.
Oos Kombuis is ’n koorsamewerking oor twee kontinente tussen twee kore olv Simon Witbooi.
Neruda: Hartstog is Afrikaanse vertalings van die Nobelpryswenner Pablo Neruda se gedigte, met toonsettings deur Laurinda Hofmeyr, en met Gideon Lombaard wat hier sentraal staan as sanger met verskeie gaskunstenaars wat hom ondersteun.
Coenie de Villiers en Deon Meyer span weer kragte saam in Karoo Suite 2: Karoonagte.
Eet Kreef! is ’n hul-deblyk aan die ikoniese album van Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band.
Amanda Strydom, Anna Davel, Aviva Pelham, Rocco de Villiers, Zorada Temmingh, Lo-ki Rothman, Ricus Nel, Demi Lee Moore, Ro-bin Pieters, Yoma, Whaden Johannes, El-zabé Zietsman, Jannie du Toit, Adam Tas, Elvis Blue en vele meer is ook te sien in verskillende vertonings.
Gratis vermaak is aan die orde van die dag in Baron van Reedestraat, die hart van die fees.
Uitkampteater, straatteater en ’n nuwe opwip- venue en Die Santie de Jager-digtersden sal ook sorg vir verdere vermaak vir feesgangers. Die venue word ter nagedagtenis na Santie de Jager vernoem.
Santie, wat as die Karoo-engel beskryf is, het ’n passie vir digkuns gehad en sy was ’n belangrike rolspeler aan die begin van die KKNK, wat met ywer gewerk het om die gemeenskap van Oudtshoorn by die fees te betrek.
Die Kuierbuurt is die bymekaar-komplek vir alle kultuurdiere by die fees met aktiwiteite dwarsdeur die dag. Aktiwiteite vir die jongspan is volop by Speelbos.
By die nuwe Lip-lekker kan jy wyn proe en smul aan heerlike deli-produkte. Daar is ook ander kroeë en rusareas.
Die markte trek ’n nuwe baadjie aan en jy kan uitsien na ’n verskeidenheid demonstrasies en ander vermaak. Musiek word die heel dag lank gespeel by die Castle-verhoog. Daar is ook ses groot opelug-piekniek-konserte, van rymklets tot swing, waar jy al jou gunstelingkunstenaars op een verhoog kan beleef.
Van die hoogtepunte sluit in Kaktus op die Vlakte wat terugkeer op Vrydagaand, 27 Maart.
Die Ndlovu Choir is te sien op die Donderdagaand (26 Maart). Die fees word afgesluit met ’n Sondag-namiddagkonsert op 29 Maart.
Feesgangers kan munt slaan uit die Afskop-promosie – ’n Kuierbuurt-weekkaartjie kos slegs R250 vanaf 16 Desember 2019 tot 16 Janaurie 2020. Die Goue-promosie bied ’n Kuierbuurt-weekkaartjie vir slegs R225 vir persone 70 jaar en ouer. Dié kaartjie is van 16 Desember 2019 tot 23 Maart 2020 beskikbaar. Hou volgende jaar Die Hoorn dop vir ’n spesiale promosie vir Oudtshoorniete.
Die volledige program kan afgelaai word by www.kknk.co.za.
Kaartjieverkope open Maandag 16 Desember om 10:00 by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home. Vir navrae oor verblyf stuur ’n e-pos na verblyf@kunste.org.za of skakel 044 203 8600.
Vir enige verdere navrae skakel 044 203 8600 of stuur ’n epos na media@kunste.org.za.