VONNISVERRIGTINGE in die saak teen ’n man van Oudtshoorn wat op Kersaand 2016 ’n jong man in die Face da Bass-nagklub doodgesteek het, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn streekhof tot volgende jaar uitgestel ná sy skuldigbevindig aan moord.
Alfonso Malgas (26) is daaraan skuldig bevind dat hy wederegtelik die dood van die 19-jarige Adrian Oliphant veroorsaak het, deur hom aanhoudend met ’n mes te steek.
Hy het onskuldig gepleit en aangevoer dat hy homself verdedig het toe ’n groep van agt mans, waaronder die oorledene, hom glo aangeval en hy twee keer na hulle gesteek het.
Hy het glo nie geweet of hy iemand raakgesteek het nie, het hy getuig.
Volgens hom wou hy die nagklub verlaat om na sy vriend, Garth, te gaan soek toe hy deur die groep mans in die voorportaal aangeval is.
Volgens hom kon hy nie verstaan waarom hulle hom wou aanval nie omdat hy nie betrokke was by skermutselings vroeër die aand nie. “Een van hulle het ’n glas na my gegooi wat ek met my arm gekeer het.”
Hy het ook getuig dat die mans hom met twee bierbottels geslaan en die broer van die nagklubeienaar hom met ’n mes wou steek en gedreig het om hom te laat doodskiet.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het dit aan Malgas gestel dat hy sy weergawe van die aand se gebeure aanpas.
Streeklanddros Retha Pretorius het Malgas se getuienis verwerp en bevind dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het.
Nie een van die groep mans het ’n wapen gehad nie, terwyl die oor-ledene tien steekwonde opgedoen het en Malgas die enigste persoon is wat dit kon toegedien het. Die oorledene het nie ’n wapen gehad nie en die beskuldigde se lewe was nie in ge-vaar nie, het die hof bevind.
Die beskuldigde het ook nie die hof beïndruk as ’n geloofwaardige getuie nie en het die opset gehad om dood te maak.
Hy het eers tydens die verhoor getuig dat hy ook beserings opgedoen het.
Die saak is vir vonnis tot 23 Januarie 2020 uitgestel met Malgas wat nou aangehou word. (Deur Garnett Wicomb)