Geen verkiesingsplakkate tydens KKNK

Deur Garnett Wicomb
’N VRIENDELIKE versoek is tydens ver­lede Maandag se spesiale raadsverga­dering van die Oudtshoorn munisipa­liteit gerig aan politieke partye op Oudtshoorn om hul hul verkiesingsplakkate vir die duur van die 2019 KKNK (van 21 tot 27 Maart) van lamppale en mure te verwyder.

Dié versoek het gekom van die munisipale bestuurder, Allen Paulse.

Paulse het die versoek na die verdaging van die vergadering gerig en gesê dat dit nie mooi sal wees om verkiesingsplakkate tussen al die KKNK-plakkate te sien nie.

“Die fees beteken baie vir die dorp se ekonomie en ons moet almal akkommo­deer,” het Paulse gesê.
Hy het politieke partye ook gewaarsku dat indien deposito’s vir die aanbring van plakkate nie betaal is nie, dit onmiddellik verwyder sal word.

Voorts het hy ook ’n beroep op partye gedoen om nie plakkate met gom teen mure en elektrisiteitsbokse aan te bring nie, en in sommige gevalle sonder die toestemming van besighede.

“Dit is moeilik om die plakkate agterna te verwyder,” het Paulse gesê.

Volgens Paulse is dit feitlik seker dat die verkiesing in Mei sal plaasvind en verwag hy dat pres Cyril Ramaphosa binnekort so ’n aankondiging sal doen.