Deur Angelique Erasmus
WANNEER die kwik in Oudtshoorn om 40 grade boer, sukkel die mens se beste vriend ook om die bloedige hitte te trotseer.
Hier is ’n paar koelblywenke om jou troeteldier teen die hitte te beskerm:
• Vul ’n ballon met water en plaas ’n speelding of bederfhappie daarbinne. Sodra die ballon gevires het, trek dit dan af van die water bal. Dit sal jou troeteldier lekker besighou, maar ook hom afkoel.
• Daar is ook redelik baie resepte aanlyn beskikbaar om “roomys” vir troeteldiere te maak, wat hul nie net gaan koel hou nie, maar wat ’n heerlike bederf vir hul sal wees.
• Sit nat handoeke op sy gunsteling lêplek, of hok.
• Belê in ’n “splash pool”, soos plastiekskulpe wat nie net as ’n sandput dien nie, maar ook as ’n swembadjie vir honde.
• As jou tuin weinig bome het, span lap en tou vir heerlike skaduwee.
• Stap eerder vroegoggend of laatmiddag wanneer die sypaadjie en teerpad koeler is.
• Ouer troeteldiere moet liefs binne die huis onder ’n waaier of op ’n koel plek gehou word.
• Daar moet altyd genoeg water beskikbaar wees om te verhoed dat troeteldiere dehidreer. Voeg selfs ’n paar ysblokkies by.
• Hou ’n ogie uit vir slange. Hoë temperature beteken dat slange ook op soek is na water.
• Diere met ligte of wit velle, veral die met pienk neuse, brand makliker as donker honde. Wend gerus sonskerm aan daai neuse, ore, pense of enige ander sagte velletjies. Spesiale sonskerm vir diere is beskikbaar.
• Moet nooit ’n troeteldier in ’n warm voertuig los nie.
• Sekere troeteldiere met lang hare kan geskeer word, maar maak seker by jou veearts dat jou troeteldier een van die diere is wat daarby sal baat. Sommige dubbelpelsdiere moet liefs nie geskeer word nie omdat dit hul juis in warm maande koeler hou.
• Hou die gebied waar jou troeteldier bly skoon. In warm weer kan dit ’n broeiplek wees vir bakterieë, vlieë, bosluise en vlooie.
• Bogenoemde wenke word op eie risiko aanbeveel vir katte. Jou kat mag dalk nie so dankbaar wees oor van die wenke nie.