RSG se Haidee Muller, boorling van Oudtshoorn en Maandag se seremoniemeester, saam met Hugo Theart, waarnemende uit-voerende hoof van Kunste Onbeperk. Foto: Schalk le Roux
DIE 24ste KKNK wil ’n familiefees wees, en daarom bied die program iets vir almal met snykant-teater, uiteenlopende musiek en hope jeug- en kindervermaak.
Aan die woord is Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat die KKNK aanbied.
Vanjaar se KKNK, wat van Donderdag 29 Maart tot Woensdag 4 April op Oudtshoorn aangebied word, se feesprogram is Maandagaand by die Klein Karoo Ostrich Emporium op Oudtshoorn bekend gestel.
Die datums van vanjaar se fees val in die skoolvakansie en oor die Paasnaweek.
Die volledige program van toneel, musiek, kunsuitstallings, gesprekke en ander vermaak is beskikbaar by www.kknk.co.za.
Gratis gedrukte programme is beskikbaar by die KKNK-kantoor, PostNet, Checkers, PNA, Pick n Pay, Steers, CJ Langenhoven Biblioteek en Serious Hair.
Volgens Theart is ’n groot nuwigheid by vanjaar se fees die nuwe feesterrein wat nou bekend staan as Die Kuierbuurt. Dit is geleë op die Rec en die Vredestraat-sportterrein en bied onder meer die kunsmark, stalletjies, kindervermaak by die ATKV-Speelbos, die Castle Lager-verhoog en die aandvertonings op die Huisgenoot-verhoog waar deur die loop van die week ses aandkonserte aangebied word met van die grootste name in die musiekbedryf. Die toegangskaartjie tot die Kuierbuurt bied gratis toegang tot die kunsmark en vertonings op die verhoë daar.
Uitkampteater is ook vanjaar terug teen net R20 per produksie en word voor die Absa Burgersentrum en by ATKV-Speelbos in die Kuierbuurt aangebied.
Theart sê Baron van Reedestraat bied vanjaar ’n allegaartjie van internasionale en plaaslike straatkunstenaars aan, asook die RSG- verhoog, die ATKV-Kampvuur saans op die RSG-verhoog, ’n blitsbasaar en verskeie ander impromptu-optredes.
• Kaartjieverkope het Dinsdag geopen by Computicket, Shoprite / Checkers en House & Home. Verblyf kan by verblyf@kunste.org. za of by tel 044 203 8600 bespreek word.