
Haidee Muller. Foto verskaf
Deur Ilze-Mari Gründling
DOODGEWONE mense inspireer haar, sê RSG se Haidee Muller. Haidee, wat op Oudtshoorn grootgeword het, sal tydens die KKNK daagliks by die RSG-verhoog te sien wees. Saans tot 12 April sal sy by ATKV-Kampvuur betrokke wees.
“Ek hou daarvan om mense se stories te vertel. Hetsy ek dit nou skryf of opneem vir radio. Ek sê nog altyd, ons almal het ’n storie en dit is al oor en oor bewys dat dit wel waar is. Elke liewe mens het ’n storie, nie net bekendes nie.”
Haidee is die dogter van Pietie en Sannie Muller, albei afgetrede onderwysers. Haar pa is ’n oud-skoolhoof en houtwerk-dosent en haar ma ’n kindertuin-onderwyser.
Haidee vertel sy was ’n besige kind!
“Ek het altyd baie gepraat en grappies gemaak. Tog is ek nie dol oor groot groepe mense nie. Al is ek ’n ekstrovert, verkies ek kuiers by my eie huis.”
Tydens die onluste in 1987 is sy na Pacaltsdorp Senior Sekondêr om haar hoërskoolloopbaan te voltooi. “Ek het daarna politiek en sielkunde studeer. Ek weet nie wat my besiel het nie! My heel eerste werk was as ontvangsdame by die Riempie-hotel; ek kon nie werk kry nadat ek graad gevang het op Rhodes nie. ’n Mens moet iewers begin!”
Sy vertel dat sy nog altyd radiowerk wou doen. “Ek het nooit gedink so iets sal gebeur nie; ek dog dit sou ’n droom bly. Maar toe dit gebeur, was ek terselfdertyd bang en helse opgewonde!”
Die deurbraak het gekom toe sy werk gekry het as ontvangsdame by You. “Ek kon níks tik nie! Vandag tik ek seker 60 woorde of meer per minuut. Met albei hande.”
Daarna het sy werk as advertensieklerk by Huisgenoot gekry. Toe sy 29 jaar oud was, het sy met ’n mediabeurs Stellenbosch toe gegaan om B Phil in joernalistiek te studeer.
Sy sê Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24, het haar gemotiveer om aansoek vir die beurs te doen.“Sy het altyd geglo ek kan skryf.”
En, ja, sy kuier gereeld op Oudtshoorn!
“My hart en my mense is daar. Ek verlang altyd huis toe.”