DAAR is die afgelope dae hard op Oudtshoorn gewerk om gebeurlikheidsplanne gereed te kry sodat beurtkrag nie vanjaar se 25ste KKNK ontwrig nie.
“Ondanks die beurtkrag-uitdaging is ons gereed vir ons kwarteeu-verjaarsdag en het ons die week alles gedoen wat ons kon om kragopwekkers gereed te hê vir teatervenues en die feesterrein,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.
“Ons doen ’n beroep op feesgangers om kalm te bly tydens enige moontlike kragonderbrekings en die nodige tyd toe te laat vir die kragopwekkers om in te skop. The show will go on!”
Theart sê die veiligheid van feesgangers is prioriteit en feesareas en sekere sleutelstrate sal verlig word. Hy het feesgangers aangemoedig om proaktief te wees en ’n flits of koplig saam te neem waar hulle gaan.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, doen die munisipaliteit alles in hul vermoë om te verseker dat besoekers en inwoners ingelig bly oor beurtkrag.
“Die munisipaliteit werk nou saam met die KKNK en alle ander belanghebbendes om te verseker dat Oudtshoorniete en ons gaste vroegtydig weet wanneer die ligte afgaan,” sê hy.
Beurtkrag-skedules verskyn op die munisipaliteit se webtuiste, www.oudtshoorn.gov.za en gereelde opdaterings word op hul Facebookbladsy (Greater Oudtshoorn Municipality) gedoen.
• Feesgangers word aangeraai om KKNK25, die fees se amptelike toep (app), af te laai aangesien belangrike inligting in verband met beurtkrag daardeur gekommunikeer gaan word.