DIE KKNK, die Oudtshoorn Munisipaliteit en die Cango Wildlife Ranch span vanjaar saam om die impak van die fees op die omgewing te beperk.
Ses herwinningsdromme is by drie van die dorp se laerskole – Laerskool Wesbank, Laerskool Van Reede en Laerskool Laurus vir die duur van die fees geleen en op verskillende plekke op die feesterrein geplaas.
Die Oudtshoorn Munisipaliteit het ook ingestem om elke dag tydens die fees tussen 08:00 en 12:00 herwinde vullis by besighede op te laai. Die vullis moet egter geskei wees in glas, papier, plastiek en blik. Besighede wat van dié diens gebruik wil maak, moet hul besonderhede deurgee aan Valencia Meyer by tel 044 203 3900.
Dit is ’n eerste vir Oudtshoorn aangesien die munisipaliteit nie ’n program het om vullis in herwinde vorm op te laai nie. Herwinning op die dorp word privaat gedoen.
Dit is hoog tyd dat Oudtshoorn begin om internasionale omgewings-vriendelike standaarde te handhaaf, sê Mari-Lize Warrington, bemarker van die Cango Wildlife Ranch.
“Met hierdie insiatief, kan ons aan ons munisipaliteit en die res van die land wys watter enorme behoefte daar is vir Oudtshoorniete én Suid-Afrikaners om verantwoordelikheid te aanvaar vir die impak wat ons op moederaarde het.”