Dié indrukwekkende bankie van staal en hout-“volstruisbene” is gister voor die Burgersentrum op Oudtshoorn opgerig en maak deel uit van Absa se Maakit Mooi-projek om permanente en funksionele kunswerke na Oudtshoorn te bring. Die bankie is die handewerk van die talentvolle Anton Roetz na ’n ontwerp van ’n jong Ghanese kunstenaar. Foto: Angelique Erasmus

Die twee fietsrakke, deur Anton Roetz, is by die biblioteek geïnstalleer. Hierdie fietsrakke is gebou volgens die afdruk van ’n volstruispoot. Foto: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
IN die bekwame hande van die Oudtshoorniet Anton Roetz verander ’n bank van hout en staal in ’n kunswerk eie aan die Klein Karoo.
Roets maak vanjaar net soos verlede jaar van die permanente én funksionele kunswerke wat deur Absa befonds word en na die fees op Oudtshoorn agterbly – ’n bank en twee fietsrakke. Die ontwerpe daarvoor is gemaak deur van die toppresteerders wat aan die Absa L’Atelier-kunskom- petisie vir jong kunstenaars uit Afrika deelgeneem het. Die kunswerke vir Oudtshoorn word egter deur plaaslike kontrakteurs en kunstenaars gemaak.
Die bank, ontwerp deur Henry Obeng van Ghana, het vandeesweek sy staanplek voor die Burgersentrum gekry om sitplek aan moeë verbygangers te bied.
Die twee silindriese houtpale aan weerskante van die sitplek stel bewegende volstruisbene voor, met groot staalvoetstukke.
Die sitplek van hout en staal stel die ribbekas van die volstruis voor.
Roetz, wat verlede jaar vir die Maakit Mooi-projek die selfoonhokkie van hout en staal op die hoek skuins oorkant die munisipalteit gemaak het, vertel dat alle materiaal vir sy projekte plaaslik aange-koop word.
“Dis vir my ongelooflik lekker om met goeie hout te kan werk, en sodoende Oudtshoorn te verryk met kuns. Ek doen dit absoluut vir die liefde van die saak, en om te kan deel wees van die nalatenskap wat die fees vir Oudtshoorn agterlaat wanneer die kunstefees verby is. Ek dink dis ’n wonderlike idee.”
Roetz vertel die twee fietsrakke wat hy gemaak het, is by die CJ Langenhoven Gedenkbiblioteek geïnstalleer.
Die fietsrakke van staal is ’n presiese afdruk van ’n volstruispoot. Roetz het dit gemaak deur volstruispote te fotografeer en dit daarna uit staal te sny.
“Daar is soveel mense wat daagliks met hul fiet-se ry, maar nie plek het om dit veilig te parkeer nie,” sê hy.
Roetz verwys nie na homself van ’n kunstenaar nie, maar loop jy deur sy werkswinkel en huis, is dit duidelik dat hy meer as net ’n vakman is. Hy vervaardig ook unieke messe, en maak musiekinstrumente uit herwinde materiaal, soos ’n kitaar uit sy oorlede ma se koperpan, sy vrou se breipenne, antieke handvatsels en soveel meer.
“Ek wil darem nou begin aftree,” skerts hy.
Roetz, wat voorheen ’n melkboerdery in George gehad het, het ’n aantal jare gelede “op Oudts-hoorn kom rustig raak” – soos hy dit noem. Hy en sy vrou, Betsie, woon op ’n plaas net buite Oudtshoorn, waar hulle ’n gastehuis bedryf.