’N BEKENDE Oudtshoorniet, dr David Piedt, is Donderdagaand by die bekendstelling van die 26ste KKNK se program in Kaapstad met die Kunste Onbeperk-prys vereer vir sy bydrae tot die KKNK.
“Dr David Piedt is onverskrokke in sy ondersteuning en passie vir die KKNK, en vir die mense van Oudtshoorn en Suid-Afrika. Sy medemenslikheid is een van die redes waarom hy hierdie prys verdien,” lui die motivering vir dié toekenning.
Kunste Onbeperk het by die geleentheid vyf pryse uitgedeel aan groepe of individue wat ’n groot impak in die kunste gehad het.
Die Kunste Onbeperk-prys vir ’n jong stem het gegaan aan die dansgroep Figure of 8 vir hulle innoverende bydrae, die Kunste Onbeperk Kruispuntprys aan Schalk Joubert, een van Suid-Afrika se mees gevierde musikante en baskitaarspeler, die Kunste Onbeperk Inspirasie-prys aan die aktrise Vinette Ebrahim en die Kunste Onbeperk-prys vir vertolking aan Anna-Mart van der Merwe. (Deur Liesel le Roux)