’N BOOTRIT op die MSC Orchestra wag op ’n jong Oudtshoorniet, Anike Thom (13), nadat sy begin Desember die wenner was in ’n groot mo-delkompetisie.
Anike het met die titel Model van die Jaar weggestap in die ouderdomsgroep 10 tot 12 jaar by die Figures Model Finesse International-kompetisie in Roodepoort, Gauteng.
Sowat 5 000 meisies het aan die kompetisie deelgeneem.
Die bootrit, vanaf 16 tot 20 Maart, is Anike se prys en tydens die vaart gaan sy aan ’n opvolgkompetisie teen ander modelle – die keer tussen 13 en 15 jaar - deelneem.
Anika val nou in ’n hoër ouderdomsgroep nadat sy op 16 Desember 13 jaar oud geword het.
Anike het groot planne. Sy sê dat as sy die ander modelle op die boot kan uitstof, sal sy as prys ’n reis na New York wen, waar sy moontlik deur modelagentskappe daar raakgesien kan word.
“Ek wou nog altyd modelwerk gedoen het.
“Dit is my droom,”sê Anike.
Volgens haar is Demi-Leigh Nel-Peters, haar rolmodel, veral omdat sy ’n goeie hart het.
Intussen konsentreer sy op haar skoolwerk en wil sy seker maak dat sy steeds toppunte behaal by Langenhoven Gimnasium.
Volgens Delene Scholtz, Anike se ma, is haar dogter ’n spontane en eerlike kind met ’n passie vir diere, en wil sy graag eendag ’n veearts word en met diere werk. (Deur Angelique Erasmus)