KAARTJIES verkoop fluks vir vanjaar se KKNK met al die kaartjies vir David Kramer: Vanaand wat reeds uitverkoop is.
Van die ander topverkopers onder die produksies wat vanjaar by die KKNK te sien is, is Ek wens, ek wens (met Frank Opperman), Prima Donna (met Nataniël), Drie Kaalkoppe (met Koos Kombuis, Dana Snyman en Erns Grundling), (Ek, Anna van Wyk (met oa Tinarie van Wyk Loots en Dawid Minnaar), Amanda Strydom: Nostalgie (met Amanda Strydom), Spertyd (met Sandra Prinsloo), Holmruggery (met Marion Holm), Terminaal 3 (met oa Anna-Mart van der Merwe), Grensloos (met Coenie de Villiers en André Schwartz), Oskar en die pienk tannie (met Sandra Prinsloo), Karen Zoid: akoesties in die Klein Karoo, en Die oerkluts kwyt (met Antoinette Kellermann).
• Dit was Maandag (14 Maart) presies twee jaar gelede toe die KKNK van 2020 afgestel moes word weens Covid-19. Vanjaar se KKNK is Suid-Afrika se eerste volwaardige nasionale kunstefees wat in twee jaar weer aangebied word.
“Dit is ’n voorreg om vanjaar weer fees te hou,” sê die artistieke direkteur van die KKNK, Hugo Theart “Laat die kunste gedy! Die lewe en lewendige optredes is kosbaar.”
Volgens Theart het hy ondanks al die uitdagings om ’n fees binne ’n korter beplanningstyd gereël te kry, baie redes tot dankbaarheid.
“Ek is dankbaar vir soveel mense wat die afgelope weke onder moeilike omstandighede dag en nag werk om alles gereed te kry vir die fees. Die uitdagings is groot – ’n korter tydraamwerk, kragonderbrekings, ’n pandemie, ensovoorts. Ek weet almal betrokke – elke kreatiewe, logistieke, administratiewe persoon doen dit met oorgawe en vreugde, ten spyte van die uitdagings.
“Ons is die afgelope weke al baie name genoem deur anti-vaksineerders en duidelik verstaan baie mense nie die realiteite nie. En ook nie watter hekkies oorgespring moet word om nou weer een van die eerste volwaardige kunstefeeste terug te bring nie.
“Ek is dankbaar vir so baie mense wat hul nekke uitsteek om die KKNK nou te laat gebeur. En elk-een wat hul ondersteuning in woord en/of daad gee… dankie, julle het geen idee hoeveel dit vir ons almal beteken nie.
“Die publiek wat kaartjies koop en opgewonde boodskappe stuur – ons kan nie wag om julle weer op Oudtshoorn te sien en te kuier nie.
“Aan die Oudtshoorniete wat besef wat die terugkeer van die fees vir die dorp sal beteken, die wat die groter prentjie sien, en verstaan en ondersteun. Dankie. Dit was ’n lang wag en ons weet wat dit vir die streek gaan beteken.
“Die kunstenaars, tegnici en almal betrokke wat geduldig en met begrip wag dat alles in plek val, en wat sonder vraag of skroom ingespring het en dinge laat gebeur…
“Die borge en vennote wat deur dik en dun met die KKNK was en die pad saam met ons loop. Dit is nie vanselfsprekend nie en jul lojaliteit en volgehoue ondersteuning is ’n riem onder die hart.
“Die doemprofete en die slegsêers, vir julle het ek nie veel om te sê nie, want wat ons nou nodig het in die wêreld is positiwiteit, ondersteuning en medemenslikheid. Ek wens julle alle sterkte toe. Ná die fees en wanneer die pandemie uiteindelik onder beheer is, gesels ons weer en kyk terug op dit wat jul te sê gehad het.
“Ons gaan kuns, kultuur en die lewe vier met die KKNK die 26ste keer weer terug op Oudtshoorn. Mag die fees ’n positiewe invloed hê op die dorp, die land en die wêreld.”
• Die KKNK 2022 Feesgids met die volledige program kan nou by www.kknk.co.za afgelaai word! Bespreek by Webtickets. Verblyf kan by https://www.lekkeslaap.co.za bespreek word. (Deur Liesel le Roux)
David Kramer uitverkoop, ander kaartjieverkope vorder fluks
