
Bo: Suid-Afrika se eie “Phantom”, André Schwartz. (Foto verskaf.)
AANHANGERS van Andrew Lloyd-Webber het almal hul gunsteling-liedjies uit sy musiekblyspele. Die produksie The Music of Sir Andrew Lloyd-Webber, wat op Saterdag 2 April as deel van die KKNK op Celebratio buite Oudtshoorn aangebied word, beloof om nie teleur te stel nie – volgens die samesteller Gerhard Meyer is omtrent ál Lloyd-Webber se grootste treffers dié aand op die program.
Die kunstenaars wat die aand saam met die Stellenbosch Stadsorkes gaan optree, is Suid-Afrika se eie “Phantom” André Schwartz, die sopraan Lynelle Kenned en die klassieke sanger Corneil Müller.
Lloyd-Webber se musiekblyspele sal nooit hul trefkrag verloor nie en meeste van hulle word steeds wêreldwyd op die planke gebring.
Die gehoor kan treffers uit musiekblyspele soos Phantom of the Opera, Cats, Evita en Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat verwag. Om net ’n paar te noem: “Any dream will do”, “You must love me”, “Take that look off your face”, “Phantom” en “O what a circus”.
Om dié liedere in die opelug onder die sterrehemel van die Klein Karoo te ervaar, is ’n belewenis wat nie misgeloop moet word nie. Celebratio is geleë langs die ou sementpad tussen Oudtshoorn en Calitzdorp en die uitsig op die berge en die plaas is asemrowend. Die vertoning begin om 20:00, maar die kos- en wynstalletjies open reeds om 18:00.
Kaartjies kos R350 en is aanlyn beskikbaar by www.webtickets.co.za. Vir meer inligting kontak Gerhard Meyer by 082 802 7138.