Bekroonde eenvrouvertoning op planke by vanjaar se KKNK

Cintaine Schutte in Die dinge van ’n kind. Foto: Robert Hamblin

DIE dinge van ’n kind, Marita van der Vyver se roman wat deur Francois Toerien vir die verhoog verwerk is, sal as ’n eenvrouvertoning by die KKNK te sien wees met die aktrise Cintaine Schutte as Mart.

Dié produksie, wat die Aardklop-trofee vir die beste solovertoning ontvang het en vir die Fiestas benoem is, is by vanjaar se KKNK te sien.

Dit word bestempel as ’n produksie wat elke ma, elke dogter, en die mans in hul lewens moet sien.
“Stick with me, baby. Ek kan nie belowe dat ek jou famous sal maak nie. Maar jy sal fun hê langs die pad.”
Dit is die woorde van ’n rebelse kamermaat wat Mart se opwindende, maar ook ontnugterende ini-siasieproses begin.

Die traumas van grootword, swangerskap en selfdood word geplaas teen die agtergrond van die 1970’s se politieke leuens en die verminking van jong mans in die grensoorlog.

Dit is op 31 Maart om 10:00, 1 April om 18:30 en 2 April om 13:30 te sien by die kykNET Hoërskoolsaal. Bespreking by Webtickets.

Wen so ’n dubbelkaartjie!
Een leser van Die Hoorn het die kans om ’n dubbelkaartjie na Die dinge van ’n kind te wen. WhatsApp die antwoord op die vraag: Wie sê die woorde: “Stick with me baby” in die eenvrouvertoning Die dinge van ’n kind? ASOOK jou naam, van en kontaknommer na 073 217 7089 – voor Maandag 21 Maart om 11:00.

Die wenner se naam sal in Die Hoorn van 24 Maart verskyn.

Wenner van Liewe Heksie-kompetisie
Die gelukkige wenner van die kompetisie in Die Hoorn verlede week vir ’n dub­belkaartjie vir Liewe Heksie en die rolskaatse is Brende Brits.

Baie geluk! Die antwoord oor wie Heksie se groot vriend is, was natuurlik Karel Kat.