’N TEKORT aan toetsbeamptes wat vir leerling- en bestuurderslisensies kan toets, het die potensiaal om groot agterstande by die Oudtshoorn Verkeersafdeling te veroorsaak.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, het dié tekort ontstaan nadat ses van die personeellede onlangs in hegtenis geneem is na ’n ondersoek oor die beweerde onwettige uitreiking van leerling- en bestuurslisensies. Die ondersoek is gedoen deur provinsiale speurders verbonde aan die SAPD se gespesialiseerde eenhede vir kubermisdaad, handelsmisdaad en misdaadintelligensie asook die Wes-Kaapse Departement van Vervoer.
Mle sê dit maak 75% van die personeel uit wat dié funksie by die verkeersafdeling moet verrig en plaas geweldige druk op die afdeling. Daar is tans tydelike verligting nadat die George Munisipaliteit twee beamptes na die Oudtshoorn Verkeersafdeling gesekondeer het om te help, maar net tot einde Maart.
Die aantal leerlinglisensies wat die munisipaliteit weekliks kan uitreik, is gehalveer – van 70 na net 35, met net een beampte beskikbaar daarvoor.
“Dié persoon is in ’n ander pos aangestel as toesighouer en help slegs uit – sy moet haar werk as toesighouer asook leerlinglisensietoetse doen. Indien die George Munisipaliteit ons vir ’n langer tydperk as 31 Maart kan uithelp, sal dit help met dienslewering.”
Sy sê ekstra personeel kan ook nie tans aangestel word nie omdat daar nie daarvoor begroot is nie. Daar sal dus tot die volgende boekjaar, wat op 1 Julie begin, gewag moet word voordat enige aanstellingsproses vir nog personeel kan begin.
Volgens Mle het die Provinsiale Verkeersinspektoraat die munisipaliteit aangeraai om minder applikante te toets vir leerlinglisensies omdat te veel applikante groot druk op die verkeersafdeling sal plaas en ’n bottelnek sal veroorsaak ten opsigte van die aantal applikante wat bestuurderstoetse moet aflê.
“Ons moet dus ons leerlinglisensieklasse bestuur en nie probleme vir ons en die publiek skep nie. Daar moet ook in ag geneem word dat party bestuurskole applikante van ander dorpe, tot sover as Gqeberha en ander omliggende dorpe, na Oudtshoorn bring vir leerling- en bestuurderstoetse. Dit plaas druk op Oudtshoorn se verkeersafdeling terwyl dieselfde dienste wel by die meeste ander munisipaliteite gelewer word. Die verkeersafdeling mag egter nie mense wat hierheen kom vir toetsing wegwys nie. Wetgewing verplig jou om almal te help.”
Mle sê toetsing op Saterdae word tans oorweeg, maar dat personeel daartoe sal moet instem omdat hulle nie gedwing mag word om Saterdae te werk nie. Die begroting moet ook in ag geneem word aangesien personeel na-uurse-vergoeding betaal sal moet word.
’n Bestuurskooleienaar van Oudtshoorn, Willem Burger, sê dié afname in toetsbeamptes kan verreikende gevolge hê vir die voortbestaan van bestuurskole en selfs tot die sluiting daarvan lei.
“Ek is baie bekommerd,” het hy bygevoeg. (Deur Liesel le Roux)
Kommer oor agterstande met lisensies by verkeersafdeling
