Awê Kaktus skop KKNK 2018 af

5 KKNK Awê Kaktus - Majozi (3)_preview 5 KKNK Awê Kaktus - Matthew Mole (1)_preview

Majozi (links bo), Mathhew Mole  (bo) en Spoegwolf is van die top-musikante wat saam met Mi Casa optree by die eerste aandkonsert op die Huisgenoot-verhoog in die Kuierbuurt, Awê Kaktus.

Majozi (links bo), Mathhew Mole (bo) en Spoegwolf is van die top-musikante wat saam met Mi Casa optree by die eerste aandkonsert op die Huisgenoot-verhoog in die Kuierbuurt, Awê Kaktus.

VERSKEIE top-musikante maak vanjaar hul bui­ging in die Klein Karoo by Awê Kaktus, die eerste groot aandkonsert in die KKNK-Kuierbuurt.

Awê Kaktus bring van Suid-Afrika se top-musiekkunstenaars na die verhoog.

Mi Casa, Matthew Mole en Majozi is vir die eerste keer in die Klein Karoo op ’n verhoog te sien en dit is ook feesgangers se enigste geleent­heid om die musiek van Spoegwolf te hoor.

Die konsert is op Donderdag, 29 Maart, om 19:30 op die Huisgenoot-verhoog en beloof ’n reusejol, vir jonk én diegene wat jonk van gees is.

Hoewel die multi-bekroonde groep Mi Casa gereeld in die Wes-Kaap optree, is dit hul eerste besoek aan Oudtshoorn. Hulle laat weet: “Ons optrede by Awê Kaktus gaan beslis een wees om te onthou, met ons nuwe treffers soos Nana en Feeling You, wat groot sukses op die radio gehad het. Ons sien daarna uit om die nuwe gehoor te ontmoet en ons liefde vir musiek met hulle te deel.”

Mi Casa se lede sê hulle verwag pragtige na­tuurskoon en hartlike mense met hulle besoek aan Oudtshoorn. Die groep het onlangs hulle treffer Nana verwerk tot ’n twee minute stort-liedjie, om mense aan te moedig om water te spaar.

Hul optrede sal ook aanhangers van die TV-reeks My Kitchen Rules SA die geleentheid bied om een van die reeks se aanbieders, J’Something, as lid van Mi Casa op die verhoog te sien.

Matthew Mole tree ook met die konsert die eerste keer op Oudtshoorn op. “Ek sien geweldig daarna uit om die eerste keer by die KKNK op te tree. Ek het al só baie van die fees gehoor en sien daarna uit om die fees te ervaar. Oudtshoorn het so ’n ongelooflike erfenis.”

Dit is die tweede keer dat hy Oudtshoorn besoek. “Ek was nog net een keer op Oudtshoorn en dit was in die laerskool. Ek is verlief op daardie deel van Suid-Afrika,” sê hy.

Die Awê Kaktus-gehoor kan musiek van beide sy albums The Home we Built en Run verwag. “Ek werk hard aan my optredes, so daar is baie energie op die verhoog van begin tot einde.” Sy twee treffers Run en Take Yours, I’ll Take Mine gaan beslis gehoor word.

Spoegwolf sê die gehoor kan ’n groot party by Awê Kaktus verwag. “Ons sien baie uit na die roosterkoek by die fees en om ons ou classics en nuwe musiek met die gehoor te deel. Ons eerste vertonings by die KKNK was in 2012 en ons is opgewonde om weer by die fees op te tree.”

Vir Majozi is dit ook die eerste keer dat hy by ’n vertoning op Oudtshoorn te sien gaan wees.

“Ek was nog net een keer vantevore op Oudts­hoorn.” Hy sê dié vertoning gaan ’n opgewekte, saamsing en -dans gevoel hê. Een van sy treffers om na uit te sien is beslis Darling.

“Dit is vir my ’n eer om by die KKNK op te tree. Ek sien daarna uit om nuwe mense te ontmoet en ’n nuwe ervaring te beleef,” voeg hy by.

Die eerste ding waaraan hy dink as hy Oudts­hoorn hoor? “Beslis, volstruise.”

Kaartjies vir Awê Kaktus kos R85, wat ook toegang tot die Kuierbuurt vir die dag bied. Week­kaartjies vir die Kuierbuurt kos R255 (vir al sewe dae) en bied toegang tot al die aandkonserte op die Huisgenoot-verhoog. Die ander konserte op die Huisgenoot-verhoog is (begintyd 19:30):

• kykNET – Dans op die Vlaktes (Vrydag 30 Maart) met Kurt Darren, Craig Lucas (The Voice), Paxton (Idols), Willem Botha, Leah, Gerrie Pretorius, Pieter Koen, Stephanie Baartman (Ge­troud met rugby) en Germandt Geldenhuys (Binnelanders).

• Karoo-nag (Saterdag 31 Maart) met Adam Tas, Refentse, Joshua na die Reën, Karin Kortjé, Caroline Grace, Gail & Malcolm Arendse en Fatman.

• Boontoe: Engelstemme (Sondag 1 April) met Jo Black, Robbie Wessels, André Ter­blanche, Corlea Botha, Thembeka, Kyle Seconna, die Hoërskool Oudtshoorn se Ad Astra-koor en orkes, Melissa van der Spuy, Tim Rankin, Henry Steele en Schalk van der Merwe.

• Sterrenag – Musiek met hart (Maandag 2 April) met Snotkop, Jay, Brendan Peyper, Leah, Willem Botha, Pieter Koen, Caroline Grace, Fatman, Lee Scott, Jan Bloukaas, Early B, Vernon Barnard, HemelBesem, Chris Else, Elwira Standili en Gerrie Pretorius

• Rymklets van Oos tot Wes (Dinsdag 3 April) met HemelBesem, Yoma, Early B Oxijin, Dj J-EFX, Yugi Yo en MC IXA.