Hersieningsaansoek eersdaags in Montana-diefstalsaak

Deur Garnett Wicomb
’N DATUM is uiteindelik bepaal vir die aanhoor van ’n hersieningsaansoek in die saak teen ’n voormalige ontvangsdame van ’n gastehuis op Schoemanshoek wat daarvan aangekla word dat sy derduisende rande van die gastehuis gesteel het.

Volgens die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, sal die aansoek op 12 Maart aangehoor word.

Werner van Rensburg, regsverteenwoordiger van die beskuldigde, Emmerentia Weyngardt, sê die enigste besware wat ingedien is, is dié van die staatsaanklaer en die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV).

Volgens hom het die ondersoekbeampte, ao Darome Burger, nie beswaar aangeteken nie.

Weyngardt kry volgens Van Rensburg nie ’n regverdige verhoor nie.
Hy beweer dat die ondersoekbeampte glo na haar eie getuienis onreëlmatig met ander getuies gepraat het. Hy het glo foto’s om dit te bewys.

Hy beweer ook dat Burger teenwoordig was tydens konsultasies wat die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, met getuies gevoer het.

Volgens Van Rensburg is dit ongrondwetlik en ongehoord.

Weyers het heftig beswaar gemaak teen Van Rensburg se aantygings en gesê dat sy eksepsie neem. “Dit is ernstige bewerings wat deur die verdediging gemaak word,” het sy gesê.

“Die ondersoekbeampte was nie by konsultasies betrokke nie.”

• Weyngardt word daarvan aangekla dat sy tussen 2013 en 2015 altesaam R557 707,15 van die Montana Gastehuis gesteel het. Sy ontken skuld.

Burger het getuig dat die beskuldigde by verskeie geleenthede dieselfde bedrae wat elektronies aan verskaffers betaal is, ook na haar eie bankrekeninge oorgeplaas het.

Weyngardt het ook by ander geleenthede, volgens Burger, aangedui dat geld na bankrekenings van verskaffers oorgeplaas is, maar volgens haar persoonlike bankstate is dit in haar eie bank­rekeninge betaal.

Volgens Van Rensburg is talle groot bedrae geld ook in die rekeninge van die sjef van Montana, Alfred Maseku, en nog ’n persoon, Bradley Titus, se rekeninge betaal.

By een geleentheid in 2014 is ’n bedrag van R40 000 glo foutiewelik in Maseku se rekening betaal wat hy later terugbetaal het.
Maseku is volgens Van Rensburg nie net die sjef van die gastehuis nie maar hanteer ook die kre­dietkaart van die besigheid.

“Hy het insae gehad in die besigheid se finansies.”

Die klaer het volgens die verdediging ook nie die ondersoekbeampte meegedeel van ’n bedrag van R200 000 wat onlangs uit sy bankrekening verdwyn het lank nadat die beskuldigde sy diens verlaat het nie.