Huiskopers wat die koop van ’n eiendom direk met ’n verkoper onderhandel, kan dalk gou spyt wees dat hulle ’n gekwalifiseerde agent uitgesny het, sê Stefaan Verlinde van Seeff Oudtshoorn.
“Die grootste terugslag vir kopers kan in die voetstoots-klousule lê waar ’n onopgeleide oog weggesteekte en latente defekte kan miskyk en duur herstelwerk in die toekoms kan meebring.
“Dit is ’n agent se plig asook deel van Seeff se gedragskode om beide partye te beskerm.”
Verlinde sê voorts privaatkopers loop die risiko om nie te kry waarvoor hulle betaal nie deur ’n eensydige kontrak te teken en kan selfs hul deposito verloor indien die kontrak gekanselleer sou word. Hy vervolg:
Pligte wat dikwels aan ’n agent gedelegeer word, soos reëlings vir skoonmaak, tuinonderhoud en oorhandiging van ’n volledige stel sleutels word dikwels in private verkope verwaarloos.
Kopers en verkopers moet in gedagte hou dat opgeleide agente, veral diegene wat spesialiste in die area is, sal help om ingeligte besluite te neem deur relevante inligting te verskaf en die belange van beide verkoper en koper te beskerm, nie net tydens die verkoop nie, maar tydens die hele oordragtydperk.
Alhoewel jy ’n agent kan uitskakel, kan jy nie uitskakel wat ’n agent doen nie.
Dit sluit in die bepaling van ’n markverwante prys vir die eiendom, om voornemende kopers te kwalifiseer, professionele foto’s te neem, nasionale advertensies te plaas, die reël van skouhuise, opstel van ’n geldige en deursigtige koopkontrak, finansieringshulp vir ko- pers en koördinering van die oordragproses.
Die vraag is dus, is dit die moeite werd om die risiko te loop deur ’n professionele agentskap uit te sny?