Hulp gevra met inisiatief om 100 diere te steriliseer

Spayathon

’N BELANGRIKE inisiatief om 100 honde en katte op 23 en 24 Mei op Oudtshoorn te steriliseer en so die aanwas van diere te beperk, sal minder diere moet betrek indien die R40 000 wat daarvoor nodig is, nie betyds ingesamel kan word nie.

“As ons nie hierdie bedrag bereik nie, sal ons die aantal diere moet verminder,” sê Vanessa Engelbrecht, voorsitter van die Animal Care Team (ACT) wat dié eerste Oudtshoorn Spay-a-Thon nog op Oudtshoorn reël saam met Oudtshoorn Volunteers vir Diere en die staatsveearts, dr Cathy Fox. Engelbrecht sê R21 000 is reeds ingesamel.

Honde en katte in minder gegoede gebiede sal ook tydens die twee dae behandel word vir brandsiekte, wurmbesmetting, vlooie en bosluise. ’n Groot veeartsenyspan het hulle ­dienste beskikbaar gestel vir die Spay-a-Thon, naamlik dr Glen Carlisle van die Oudtshoorn Diere­kliniek, drs Reinette du Plooy en Trude Stassen van die Kango Diere­kliniek, drs Fox en Christiaan Blignault van die staatsveeartsdienste, dr Hilldidge Beer van die Ebervet Petcare Group asook die veeartsenyverpleegsters, Hilda Mills en Sunet Gouws.

Om geld in te samel bied die groepe ’n kerrie-en-rysete aan op 20 Mei teen R35 per kaartjie wat te koop is by die Kango Dierekliniek.

Vir meer inligting oor donasies en borgskappe, kontak Engelbrecht by 044 272 7311.

• Bydraes vir die Spay-a-Thon kan inbetaal word in die rekening van die Animal Care Team by FNB, takkode 210 414, lopende rekening, bankrekeningnommer 625 9905 1902. Gee asb as verwysing: Spay-a-Thon.