Louis Willeman van Timbercity, saam met (van links) Raymand Allpass van die konstruksie-maatskappy Asla, en Keegan America en Wahl Baartman, albei van die Oudtshoorn munisipaliteit se behuisingskantoor, het verlede week by Charlotte Stuurman se huis gaan inloer om te sien hoe die bouwerk vorder.
Charlotte Stuurman, ’n rolstoelgebonde vrou van Bridgton, kry eersdaags ’n splinternuwe huis, in Bridgton. Danksy goeie samewerking tussen die Oudtshoorn Munisipaliteit en Timbercity op Oudtshoorn, is die huis spesiaal vir haar as gestremde persoon ingerig.
Hoewel ’n erf al tydens die ou bedeling aan Stuurman se voorouers toegeken is, is daar nooit ’n huis daar gebou nie.
Stuurman het toe ’n klompie jare gelede by Oudtshoorn se behuisingskantoor vir ’n subsidie vir die bou van ’n huis aansoek gedoen. Die Nasionale Raad van Provinsies (NCOP) het toe in samewerking met die Wes-Kaapse Departement van Behuising onlangs die lening toegeken waarna die Oudtshoorn munisipaliteit die kontrak vir die bou van die huis aan die konstruksiemaatskappy Asla toegeken het.
Die NCOP het toe vir Timbercity genader om te help om Stuurman se huis in te rig sodat dit rystoelvriendelik is.
André van Greunen, eienaar van Timbercity, het dadelik ingewillig om die nodige materiaal te verskaf en die verbeterings op Timbercity se koste aan te bring. Die aanpassings wat Timbercity aanbring, sluit die volgende in:
• Rolstoelopritte (ramps) by die buitedeure van die huis;
• Die nodige relings by die toilet en stort;
• Paraplegiese krane; en
• Vensters wat van onder af oopmaak sodat dit makliker deur ’n persoon in ’n rystoel bygekom kan word.
Benewens die gemelde verbeterings het Timbercity ook die huis se binnekant geverf en die vloere ten volle geteël om dit netjieser te maak en makliker om skoon te hou.
Timbercity het ook ’n geiser (warmwatertoestel) gratis geïnstalleer. Die installasie van die geiser het sekere uitdagings gebied, aangesien daar nie plek in die huis se dak vir ’n gewone geiser is nie en Timbercity ook vir haar ’n geiser wou installeer wat ekonomies is sodat die kragkostes nie te hoog vir Stuurman is nie.
• Daar word beoog om die huis op Vrydag, 16 November, aan Stuurman te oorhandig. Hooggeplaastes van die NCOP sal ook teenwoordig wees.