Sewe jonges skuldig wat kos steel by skool

Deur Angelique Erasmus
Sewe jeudiges is Dinsdag in die Oudtshoorn Landroshof skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te steel asook aan diefstal.

Die ses – almal tussen die ouderdomme van 16 en 21 met een vroulik – het by Dysselsdorp Sekondêr ingebreek en kos ter waarde van R 4 000 gesteel.

Volgens hofstukke het hul toe van die kos geeët en die res begrawe om later te eet.

Die polisie het egter die sewe vasgetrek en die kos gevind.

Drie van die beskuldigdes is 12 maande gevangenisstraf opgelê wat vir drie jaar opgeskort is, drie wat minderjarig is, is elk vir 12 maande na ’n jeug-en-kindersorgsentrum gestuur waar hul onder toesig van ’n proefbeampte geplaas is. Die be­ampte moet gereeld vorderingsverslae aan die hof voorsien.

Een beskuldigdes moet 18 maande tronkstaf uitdien.

Volgens van die groeplede is hulle bang vir gevangenisstraf. Hulle het egter deur die loop van die oggend gereeld gelag en grappies onder mekaar gemaak.

Een van die minderjariges, ’n 16-jarige seun se ma wat ook by die hof was, het aan Die Hoorn gesê haar seun het onder die verkeerde invloed van die groep gekom.

“Ek het hom nie so groot gemaak nie,” het sy moedeloos gesê.
Die seun het ook ’n gewone aanrandingsaak hangende teen hom, nadat hy vroeër vanjaar sy suster (31) aangerand het.