Deur Angelique Erasmus
WANNEER eiendomme verhuur word, moet daar na die huurder sowel as die verhuurder se regte en belange omgesien word.
Die Wet op Huurbehuising Nr 50 van 1999 verskaf duidelike riglyne en is beskikbaar op die webstuise www.westerncape.gov.za.
’n Skriftelike kontrak is van uiterste belang. Dit sal van waarde wees om na die volgende wenke te kyk om te verseker jou huurkontrak is waterdig.
Wanneer daar ’n goeie skriftelike kontrak in plek is, is daar baie min ruimte vir probleme of ongelukkighede tussen die huurder en verhuurder. ’n Afskrif van die getekende kontrak moet ook aan die huurder verskaf word so gou moontlik ná die ondertekening van die kontrak. ’n Afskrif kan by die Polisie gesertifiseer word.
Inligting wat van uiterste belang is en in die kontrak moet voorkom, is as volg:
• Albei partye se volle name en vanne;
• Identiteitsnommers;
• Kontaknommers van albei partye, ingesluit e-pos-adresse en werktelefoonnommers;
• Die adres van die eiendom wat verhuur word, sowel as die dorp waarin die eiendom is;
• Huurbedrag en die datum waarop die huur betaal moet word;
• Die deposito wat betaalbaar is. Dit is belangrik vir die verhuurder om te weet dat ’n deposito ge-woontlik gelykstaande aan een maand se huur is. Die deposito moet egter kragtens wet in ’n rentedraende rekening geplaas word om as belegging vir die huurder te dien;
• Die termyn van die kontrak, insluitend die begin- en einddatum. Baie mense maak die fout om bv die datum van die 1ste tot die 1ste te maak. Die termyn van ’n jaarkontrak strek bv van 1 Junie 2018 tot 31 Mei 2019. Onthou ook dat nie een van die twee partye sommer net ’n maand kennis binne die kontraktermyn kan gee nie. Die termyn staan vas en die huurder kan aanspreeklik gehou word vir die betaling tot die einde van die kontrak. Slegs as die huurder en die verhuurder tot kennis binne die vaste termyn instem, is dit wettig;
• Eskalasiepersentasie en -datum. Gewoontlik is dit om en by 10%;
• Verantwoordelikhede van die eienaar en huurder. Redelike slytasie moet in ag geneem word;
• Kennisperiode. Hoe lank voor die beëindiging van die kontrak moet die huurder in kennis gestel word dat sy kontrak nie hernu gaan word nie. En hoe lank voor die einde van die kontrak moet die huurder die eienaar in kennis stel van sy/haar voorneme om te hernu. Dit beteken egter nie die eienaar is verplig om die kontrak te hernu nie; en
• Oral waar daar besonderhede (spesifikasies) ingevul word, moet albei partye parafeer sowel as onderaan elke bladsy. Die laaste bladsy moet die volle hantekening van albei partye bevat, sowel as ’n getuie vir elk, en stipuleer waar en wanneer (volledige datum) die kontrak geteken is.
’n Agent neem wel kommissie, maar die probleme wat vir die huurder en verhuurder gespaar word, maak dit elke sent werd. Agente het die nodige kennis en ondervinding om elke sitsuasie wetlik en behoorlik uit te sorteer, veral as die huur-eiendom op ’n ander dorp is.
Verhurings bly maar moeilik en is ’n groot risiko omdat eiendom ’n duur belegging is.
Jacques de Beer, eienaar van Pam Golding Eiendomme en Kango Verhurings op Oudtshoorn, sê huureiendomme is uiters skaars op die dorp. “Dit het boonop die afgelope vyf jaar baie duur geraak om ’n eiendom te huur omdat daar so ’n groot aanvraag is. Soms is dit vir voornemende huurders beter om eerder te kyk of hulle kwalifiseer vir ’n huislening. Indien wel, kan jy jou eie eiendom koop en maandeliks daarvoor betaal.
“Enige verkoopsagent kan jou help om vas te stel of jy vir ’n huislening kwalifiseer. Dan hoef jy eers na huise te begin kyk as jy vir ’n huislening kwalifiseer,” sê De Beer.