RTIA-verkeersbus besoek Oudtshoorn

Die Road Traffic Infringement Agency (RTIA) se mobiele kantoorbus se personeel wat vandeesweek Oudtshoorn besoek het, is van links Siphesihle Maphumulo, Mandie Olivier (projekleier), Tebogo Ledwaba en Nelson Papetsoa. Foto: Wyndham Ewerts

Deur Wyndham Ewerts
DIE Road Traffic Infringement Agency (RTIA) se mobiele kantoorbus het Dinsdag sy landwye “Know your traffic fine status”-bewusmakings­veldtog op Oudtshoorn afgeskop.

Die bus was twee dae lank op die parkeerterrein by die Queen’s Mall nadat dit ook ’n dag lank by die plaaslike verkeersdepartement gestaan het.

Volgens Mandie Olivier, projekleier van RTIA, is die veldtog se hoofdoel om die publiek in te lig rondom die AARTO-wetgewing.

AARTO staan vir Administrative Adjudication of Road Traffic Offences.
”Die wetgewing is ontwerp om motoriste te ontmoedig om verkeerswette te oortree deur die heffing van boetes en ’n strafpuntstelsel.

“Van die nuwe opsies is dat jy 50%-afslag kry op die oorspronklike boete indien jy die boete binne 32 dae na ontvangs van ’n oortredings­kennisgewing (fase 1) betaal.

“Jy kan nou ook die naam verstrek van die bestuurder wat in beheer was van die voertuig ten tye van die verkeersoortreding.
“Oortreders kan voorts reël om die boete in paaiemente te betaal. Wanneer die 32 dae verstryk, tree die hoflikheidsbrief in (fase 2) wat behels dat die volle bedrag plus administratiewe koste (R60) betaalbaar is.

“Indien 64 dae egter verstryk en die boete nog nie vereffen is nie, sal ’n dwangbevel plus ’n ekstra administratiewe fooi (R60) betaalbaar wees. As dit geïgnoreer word, sal die bestuurder se rybewys opgehef word.”

• Die RTIA-kantoorbus sal op 21 en 22 Augustus sy bewusmakingsveldtog in Prins Albert voortsit.

• Vir enige verdere inligting oor die AARTO-wetgewing kan RTIA gekontak word by 087 285 0500 en 0861 227 861, of aanlyn by www.aarto. gov.za of www.rtia.co.za