Saak van hofrol geskrap nadat klaers nie hof toe kom
Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen vier mans van Dysselsdorp wat daarvan aangekla is dat hulle ’n man met ’n kap-mes en piksteel geslaan en van sy vriende met klippe gegooi het, is Vrydag in die Oudtshoorn Streekhof van die hofrol verwyder omdat die klaers weer nie by die hof was nie.
Donovan de Villiers, Adrian Hector, Christiano de Villiers en Donovan Lewis was aangekla van poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Die beweerde voorval het in die vroeë oggendure van Kersfees 2015 in ’n straat op Dysselsdorp plaasgevind toe die vier glo die 23-jarige Sabi Sibanda met ’n kapmes en piksteel geslaan en sy vriende met klippe gegooi het.
Hulle het sekere erkennings gemaak, maar skuld ontken.
Volgens die staatsaanklaer, Hyron Goulding, is dit duidelik dat die klaers nie verder belangstel in die saak nie omdat hulle ten spyte van talle pogings om hulle by die hof te kry, steeds wegbly.
Streeklanddros Retha Pretorius het die saak daarna op versoek van die beskuldigdes se regsverteenwoordigers, Vaughen Shone en Eugene Roos, van die hofrol geskrap.