By ’n inligtingsessie oor munisipale steun vir sportontwikkeling en groot sportgeleethede op Oudtshoorn was voor van links Susanna Spires (Klein Karoo Sport vir Gestremdes), Almerie Venter (Oudtshoorn Pluimbalklub), Avuyile Myo (Laerskool Van Reede-trompoppies), Gabriël Ladouce (Laerskool Van Reede o.12 Cravenweekrugby) en raadslid Hendrik Ruiters. Agter van links is Johnny Bisschoff (skoolhoof Laerskool Van Reede en SWD Trompoppies), Colan Sylvester (burgemeester), Garnett Wicomb (verteenwoordig Suid-Afrika in die VSA in tennis) en Lluwellyn Coetzee (senior bestuurder: strategiese dienste). Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
DIE Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het in die 2017/2018-boekjaar digby R585000 se finansiële steun gegee vir die aanbied van toernooie sowel as 174 atlete uit die gemeenskap om dit vir hulle moontlik te maak om as lede van nasionale, pro-vinsiale en streekspanne aan groot byeenkomste in Suid-Afrika en die buiteland deel te neem.

Sylvester het die inligting verlede week met die media gedeel nadat inwoners die munisipaliteit gekritiseer het omdat hulle die onlangse SuperSport-finaal op Oudtshoorn finansieel ondersteun het en die munisipaliteit beskuldig dat hulle nie plaaslike atlete ondersteun nie.

Die plaaslike munisipaliteit ondersteun juis plaaslike sportlui en wil juis saam met plaaslike sportfederasies werk omdat dit aansluit by hul visie om Oudtshoorn as Sportmekka van die Eden Distrik te bemark. “Die munispaliteit ondersteun juis ons plaaslike atlete, ons beloon juis daarmee ons kinders se prestasies en wil daarmee ons kinders aanmoedig om aan sport deel te neem en te presteer,” het Sylvester gesê.

Die munisipaliteit begroot vir die finansiële ondersteuning van atlete wat nasionale, provinsiale of streekspanne verteenwoordig.

Onder die talle kinders en ander plaaslike atlete wat ondersteun is, tel ’n tennisspeler wat Suid-Afrika by ’n meesterstenniskampioenskap in die VSA verteenwoordig het, 13 rugbyspelers wat danksy die steun aan nasionale toernooie kon deelneem, vyf skopboksers wat in Turkye aan ’n internasionale toernooi deelgeneem het met ’n borskap van R9000, tien pluimbalspelers wat na die SA Veteranetoernooi kon gaan, 55 skaakspelers wat in Bloemfontein kon gaan deelneem en 15 baldansers wat by die SA Baldanskampioenskap in Sun City kon meeding met ’n borgskap van R15000.

Twee groot nasionale byeenkomste waaraan talle plaaslike atlete ook vanjaar deelgeneem het en wat op Oudtshoorn aangebied is, die SA Pad­fiets- en Tydtoetskampioenskap en die SA Trom-poppiekampioenskap, is elk met R30000 deur die munisipaliteit ondersteun, terwyl R12000 toege­ken is aan 21 krieketspelers om te kon deelneem aan die Nasionale Krieketweek op

Oudtshoorn in Desember 2017 met ’n verdere R10000 wat beskikaar gestel is aan die Nasionale Krieketweek.

Sylvester het gesê die waarde van groot sportbyeenkomste op die dorp kan nie oorskat word nie omdat dit duisende mense na die dorp bring wat groot bedrae geld bestee aan verblyf, kos en ander aankope. Volgens hom gaan die SA Padfiets- en

Tydtoetskampioenskap dalk volgende jaar weer op Oudtshoorn aangebied word as gevolg van die bystand wat van die munisipaliteit ontvang word met kwessies soos die voorbereiding van die paaie en die beskikbaarstelling van munisipale skoonmaak- en verkeerspersoneel.

“Nie een ander dorp in die Eden Distrik kan met Oudtshoorn meeding as dit kom by sportgeleent­hede nie,” het hy gesê.
Volgens Sylvester het SuperSport Oudtshoorn vir die aanbieding van die SuperSport-eindstryd gekies omdat die dorp se sportgeriewe van die beste in die Eden Distrik is.

“Nou vra ’n mens die vraag: laat ’n mens sulke geleenthede verbygaan of gebruik ’n mens ’n toer­nooi wat nasionaal uitgesaai word en bemarkingswaarde het?

“Oudtshoorn is een van die min dorpe in die land waar verskeie nasionale byeenkomste soos vanjaar in een jaar plaasvind: die

SA Padfiets- en Tydtoetskampioenskap, die SA Trompoppiekampioenskap, die onlangse proewe vir die baldans-wêreldkampioenskap, twee swemkampioenskappe en ook die Momentum o.13 nasionale krieket-week,” het hy gesê.

Lluwellyn Coetzee, die munisipaliteit se senior bestuurder: strategiese dienste, het gesê hy is trots op die rol wat die munisipaliteit vertolk in die toekoms van jong sportlui.

“Ek sien toekomstige Cravenweekspelers onder ons, ek sien trompoppies wat nasionaal en internasionaal sal deelneem.

“Baie ouers se omstandighede is moeilik en hier steun die munisipaliteit waar ons kan.”