met Arno Greyling
VANDEESWEEK gaan loer ons na die invloed wat die Groot Skerm op die motorbedryf het en gehad het. En as ek praat van die Groot Skerm verwys ek na Hollywood – die wêreld se grootste fantasiefabriek.
Ek wonder of die lesers van hierdie rubriek besef watter groot invloed die rolprentbedryf oor die jare gehad het op die publiek se persepsie van die waarde van motors.
Wanneer vervaardigers van ’n rolprent die rolverdeling vir die rolprent gedoen het, word die motors wat in elke toneel gebruik sal word, met net soveel sorg gekies.
Om mee te begin word die tydperk waarin die rolprent hom afspeel, as riglyn gebruik.
Verder moet die omgewing ook in ag geneem word, want hoe sal ’n klein Yaris nou regkom in ’n omgewing bedek met sneeu?
Daarna word op ’n kleur besluit.
As al hierdie faktore in ag geneem is, word die kortlys gefinaliseer van ’n lys van motors wat alles sal vasvang wat die rolprent in elke toneel wil projekteer.
Met dié lys word die vervaardigers dan genader om te tender om hul voertuie in die rolprent te hê! Dis reg, vervaardigers van die motor vergoed die rolprentvervaardiger om sy produk te gebruik. En met goeie reg ook. Hollywood het ’n baie kragtige bemarkingsinstrument geword.
Dit geld nie net vir motors nie, maar vir elke produk wat in die rolprent gebruik word – bier, kitskos, meubels, ens.
As ’n vervaardiger nie daarin slaag om ’n tender vir sy produk te bekom nie, sal die die produk so in die rolprent gebruik word dat die kyker dit nie sal kan herken nie.
In die geval van motors word die fooi wat die vervaardiger betaal, direk gekoppel aan die hoeveelheid en prominensie waarvoor die vervaardiger erkenning sal kry. Daarvolgens word selfs die hoek en tot ’n mate die lengte van die kameraskote bepaal.
Hoe meer geld, hoe groter die blootstelling. En die karre raak later sterre in eie reg!
Dink maar aan “Eleanor”, die 1967 Ford Mustang wat Nicholas Cage so handig bestuur het in die rolprent Gone in 60 seconds of die Chevrolet Caprice wat gebruik is in die rolprent Dukes of Hazard.
Daar is selfs al ’n studie gemaak oor die karre wat oor ses dekades die meeste prominente verskynings in rolprente gemaak het. Dié navorsing is gedoen deur Go Compare.com.
Die ikoniese Ford Mustang het oor die tydperk 809 verskynings in rolprente gemaak, die Ford Crown Victoria 755 en die
Chevrolet Impala 510. Kort op die Impala se hakke is die Chevrolet Caprice met 486 verskynings en in die vyfde plek is die Ford Econoline met 442 verskynings.
Die eerste voertuig wat nie van Amerikaanse afkoms is nie, is die Mercedes Benz S-Klas wat in posisie nommer ses is met 401 verskynings.
Die res van die top 10 is die Chevrolet Camaro (319), Volkswagen Golf (312), Toyota Land Cruiser (307) en Lincon Town Car Limousine met 300 verskynings.
Nou ja, ek is baie seker daarvan jy gaan nou ’n bietjie anders na die volgende rolprent kyk. Hollywood bly maar net ’n bemarkingsmasjien in ’n liga van sy eie.
Groetnis tot volgende keer.
