Nuwe waterpyplyn na De Rust, Blomnek

DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het begin met die konstruksie van ’n pyplyn tussen die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema (KKLWVS) en die reservoir in Blomnek by De Rust.

Luidens ’n persverklaring van die munisipaliteit wat Dinsdag uitgereik is, sal die pyplyn water aan Blomnek en De Rust verskaf wanneer daar tekorte in droogtetye ontstaan en ook wanneer die watergehalte nie na wense is nie.

Watervoorsiening uit die Huisrivier is tans onvoldoende en 4,5l/s minder as die gemiddelde verbruik op De Rust van 6,5l/s, terwyl die gehalte van die water uit die Huisrivier ook soms swak is – veral na die verwoestende brand in Desember 2016 in die rivier se opvangsgebied.

Die projek behels ’n 4,5 km-lange pyp­lyn van 200 mm in deursnee, asook die totale opgradering van die aanjaerpompstasie by Nelsrivier.

Die water is afkomstig van boorgate en dit word by die watersuiweringswerke by Dysselsdorp gesuiwer voordat dit na die pompstasie gaan. Vanaf die pompstasie sal die water na die Asla-reservoir by Blomnek gepomp word.

Met die suiwering van die water sal die oormaat yster en mangaan in die water verwyder word, die lae pH reggestel word en dit gechlorineer word.

Die projek se voltooiingsdatum is middel Oktober 2018.

Die projekwaarde is R8,4 miljoen en is moontlik gemaak deur droogtehulpfond-se, bekend as MIG-fondse (Municipal

Infrastructure Grant) asook WSIG-fondse (Water Services Infrastructure Grant).
Die kontrakteur is Meyer Beton.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit spreek sy dank uit vir die beskikbarstelling van dié fondse. “Die munisipaliteit besef dat die pyplyn ’n groot verskil sal maak in die lewens van die inwoners van De Rust wat die laaste aantal jare gebuk gegaan het onder watertekorte en soms ook swak kwaliteit water ontvang het.”