Beswaar oor uitgrawings by Bloupunt langs die R341

Lede van die gemeenskap van Dysselsdorp wat beswaar aangeteken het oor die uitgrawe van klip en gruis by Bloupunt vir die bou van die pad tussen Oudtshoorn en De Rust, is van links Endrew Baartman, George Meyer (gemeenskapsleier), Jannie Campher en John Rabie.

Die voertuie en toe- rusting van die kontrakteur op die grond by Bloupunt wat tydelik van die terrein verwyder is. Foto’s verskaf

Deur Liesel le Roux
DIE uitgrawe van klip vir die bou van die R341 tussen Oudts­hoorn en De Rust op ’n sensitiewe terrein waarvandaan grootskeepse gedwonge verskuiwings na Dysseldorp in die laat 1970’s plaasgevind het, het daartoe gelei dat voertuie en werktuie op die terrein verlede week voorlopig verwyder is.

Bekommerde inwoners van Dysselsdorp het Die Hoorn vandeesweek genader oor die voertuie en werktuie wat op Bloupunt klip uitgrawe vir die padbouwerk.

Volgens George Meyer, ’n gemeenskapsleier van Dysseldorp, is daar nog grondeise hangende by Bloupunt en kan daar nie onder sulke omstandighede met grond gemyn word nie.

“Daar is ’n moratorium dat die grond nie verkoop mag word alvorens die grondeise afgehandel is nie,” sê hy.

Hy en vier ander verteenwoordigers van die gemeenskap en oud-inwoners van Bloupunt het verlede week die nuwe kontrakteur wat sedert einde Junie by die pad betrokke is, Roadmac Surfacing Cape (Pty) Ltd, versoek om die uitgrawing van klip by Bloupunt te staak en hul werktuie en voertuie te verwyder. Daar is aan die versoek voldoen met gesprekke wat tans tussen groepe gevoer word.

Volgens Meyer is hulle Dinsdag ingelig dat die kontrakteur nog wag vir terugvoer van die provinsie oor hoe toestemming bekom is om vir klip by Bloupunt te grawe.

Volgens John Maxim wat as skakelbeampte tussen die gemeenskap en die kontrakteur dien, behoort die grond volgens sy inligting aan die ou Distriksraad en het hy aanbeveel dat die beswaardes met verteenwoordigers van die Eden

Distriksmunisipaliteit en die provinsie moet praat.

Werk aan die pad het in Desember 2017 tot stilstand gekom nadat die vorige kontrakteur onder likwidasie geplaas is.

Die R341 is ’n provinsiale pad en die kontrakteur is deur die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke aangestel.

Navrae oor die aangeleentheid is vandeesweek aan die Eden Distriksmunisipaliteit en die Wes-Kaapse Departement van

Vervoer ge­stuur, maar teen druktyd is nog geen terugvoer ontvang nie.