Opgeskorte vonnis en huisarres vir statutêre verkragting
Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Paardebond naby Volmoed is in die Oudtshoorn Streekhof ’n opgeskorte vonnis opgelê en vir twee jaar onder huisarres geplaas nadat hy aan statutêre verkragting skuldig bevind is.
Christiaan Ruiters (23) het erken hy het met toestemming geslagsgemeenskap gehad met ’n 13-jarige meisie wat haar swanger laat word het.
Daar is in die hof getuig dat Ruiters en die meisie in ’n verhouding was. Hy sorg vir die kind omdat albei haar ouers oorlede is en sy by haar ouma woon wat dit nie breed het nie.
Die staatsaanklaer, Nadia le Roux, het die hof meegedeel dat ’n pleitooreenkoms ten opsigte van skuldigbevind en ’n regverdige vonnis deur die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) aanvaar is.
Streeklanddros Daniel Boks het die vonnis soos ooreengekom bekragtig en beklemtoon dat Ruiters aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind is.
Hy is gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf wat voorwaardelik in geheel vir vyf jaar opgeskort is.
Verder is hy tot twee jaar korrektiewe toesig gevonnis wat behels dat hy 24 uur per dag onder huisarres is, behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
Hy moet hom weeerhou van die gebruik van drank en dwelms en 16 uur per maand gratis gemeenskapsdiens doen.
Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.