Slagoffer net 11 jaar oud
Deur Garnett Wicomb
’N MAN (32) van Bridgton wat ’n 11-jarige meisie in sy slaapkamer betas het nadat hy haar gevra het om sy rug te smeer, is Vrydag in die Oudtshoorn Streekhof aan seksuele aanranding skuldig bevind.
Paul Fouche, vir wie die kind “Uncle Paul” genoem het, het ontken dat hy die kind op ’n bed neergegooi het toe sy geweier het dat hy aan haar geslagsdeel vat. Hy wou dit doen omdat hy glo gehoor het sy het iemand anders toegelaat om dit te doen.
Fouche het getuig dat die kind ’n storie teen hom opmaak.
Die staatsaaklaer, Willem Vister, het die hof versoek om sy weergawe te verwerp omdat hy dit aanpas.
Streeklanddros Retha Pretorius het in haar uitspraak gesê die kind het ’n gunstige indruk op die hof gemaak hoewel daar etlike weersprekings in haar getuienis was.
Volgens haar is dit verstaanbaar omdat dit ’n erg traumatiese ervaring moes wees en sy ’n kind is.
“Sy het goed getuig en was intelligent genoeg om vrae te beantwoord. Dieselfde kan nie van die beskuldigde gesê word nie.
“Hy het ’n swak indruk op die hof gemaak, was nie konsekwent nie en het homself meer as een keer weerspreek.
“Sy weergawe is onwaarskynlik,” het die landdros gesê.
Die kind het onmiddellik nadat sy uit die huis gehardloop het na ’n vrou in dieselfde straat gegaan en in trane vertel wat Fouche met haar gedoen het. Fouche was bekend aan die gesin en volgens die kind se ma soos ’n “huiskind”.
Die hof het ook die getuienis van die vrou aan wie die kind die voorval eerste oorgedra het, as geloofwaardig bevind.
Vonnisoplegging is vir ’n korrektiewe verslag deur die streeklanddros tot 29 Augustus uitgestel.
Fouche, met drie vorige veroordelings, bly in aanhouding op ’n tweede seksklag.