Eden erken sportlui se prestasies

Janine Kotze wat bekroon is vir tegniese uitnemendheid in pluimbal.

Christo Vermaak is aangewys as Sport­joer­nalis van die Jaar.

Dave van der Walt (regs) van Oudtshoorn is met die Presidentstoekenning vereer vir sy reuse-bydrae tot tweekamp in die Eden-streek. Dié prestige-toekenning is aan hom oorhandig deur Desmond Speelman, voorsitter van die Eden Sportraad.

Phillip Seroux van die Oudtshoorn Christelike Jeugforum wat aangewys is as die Sportfederasie van die Jaar.

Errol Pretorius, wat as Sportlegende van Eden vereer is.

Reginald de Silva, wat ook as Sportlegende van Eden vereer is.

Garnett Wicomb, wat as Sportlegende van Eden vereer is.

Vier bekende Oudtshoorniete wat in die afgelope sowat ’n jaar oorlede is, se name is op die Ererol geplaas. Familielede het dié eerbewyse ontvang. Hulle is van links Elke Meissner namens haar man Frits Meissner; Jossie Nel en haar seun Bertus namens haar man Koos Nel, Rida Bester namens haar broer Louis Lategan, en Johan du Bois namens sy pa Nico du Bois.

Deur Liesel le Roux
SES Oudtshoorniete is Vrydagaand by die Eden Sportoekenningsonthaal vir 2018 as die wenners in hul afdelings aangewys, terwyl verskeie sportlui en sportadministrateurs ook vereer is vir hul bydraes die afgelope jaar.

Die Oudtshoorniete wat aangewys is as die wenners in hul afdelings, is die krieketspeler Jean du Plessis (Junior Sportman van die Jaar), Langenhoven Gimnasium se Jacquine Strydom wat aangewys is as die Hoërskole Sportvrou van die Jaar vir haar prestasies in skopboks, Jada Coetzee van Laerskool Van Reede wat as Laerskole Sportvrou van die Jaar bekroon is vir haar veelsydigheid en prestasies in verskeie sportsoorte, en Janine Kotze wat die afdeling vir tegniese uitne- mendheid (pluimbal) gewen het. Ander inwoners wat toekennings ontvang het, is die Oudtshoorn Christelike Jeugforum se Phillip Seroux en Christo

Vermaak wat vir sportjoernalistiek bekroon is.

Eretoekennings het gegaan aan ’n groep uitmuntende sportlui en -administrateurs van Oudtshoorn:

• Garnett Wicomb (tennis), Errol Pretorius ­(fietsry) en Reginald da Silva (krieket) ontvang Legende-toekennings vir hul sportprestasies;

• Dave van der Walt, ervare sportadministrateur, ontvang die Presidentstoekenning vir sy jarelange bydrae in verskeie sportsoorte; en

• Freda Barnard (swem), Raymond Avontuur (krieket) en Corné Bence (fietsry), ontvang al drie Sportaanprysingstoekennings vir hul bydraes tot sport oor baie jare.

Die spreker van die aand was die oud-Springbok Ashwin Willemse wat onder meer gewys het op die verenigende rol van sport.

Hy het oud-president Mandela se lewe gebruik as voorbeeld vir opkomende sportmanne en -vroue, en ook verwys na sy eie lewe en hoe sekere mense op kritieke tye in sy lewe daar was om hom rigting te gee. Willemse het sportlui aangemoedig om die uitdagings van die lewe te aanvaar en nooit moed op te gee nie.

“Jy kan so ver gaan soos wat jou moed jou kan neem. Dis nie wat jy sê wat jou sukses gaan bepaal nie, maar wat jy doen.”

• Die toekenningsaand is vanjaar op Oudtshoorn gehou en die dorp het uitgeblink met ’n pragtige en goed georganiseerde funksie in die Banketsaal.

Volgens die voorsitter van die reëlingskomitee, Rudi Claassen, moes meer as 190 nominasies verwerk word om die wenners in die 33 kategorië aan te wys. 280 finaliste en gaste het die glansgeleent-heid bygewoon.