Verkragting en aanranding: Uitspraak op 14 Mei

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n man van Blomnek, De Rust, wat van menseroof, verkragting en aanranding van sy voormalige meisie aangekla word, is in die Oudtshoorn Streekhof vir uitspraak tot 14 Mei uitgestel.

Reagan Makoma (26) word daarvan aangekla dat hy die vrou by ’n bring-en-braai geleentheid geklap en gestamp, haar na ’n nabygeleë begraafplaas getrek, met ’n mes gedreig en verkrag het.

Hy ontken skuld.

Die opsigter van die begraafplaas, Daan Meswati, het getuig dat hy die klaer die oggend van 1 Januarie 2017 by die hek van die begraafplaas gekry en sy vir hom ’n sigaret gevra het.

“Sy het niks van verkragting gepraat nie en ek het ook nie enig­iemand anders in die omgewing gesien nie,” het Meswati getuig.
Volgens hom het die vrou normaal voorgekom.

Die staatsaanklaer, Nadia le Roux, het vir skuldigbevinding op al drie klagtes gevra omdat Makoma se weergawe nie redelik moontlik waar is nie en verwerp moet word.

Volgens die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Brian Carelse, hang daar ’n groot vraagteken oor die getuienis van die vrou en behoort hy vrygespreek te word. Makoma was volgens hom ’n eerlike getuie.

Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks.