Borgaansoek in R27 miljoen-tiksaak
Deur Garnett Wicomb
UITSPRAAK in die tweede borgaansoek van ’n Mosambiekse burger wat in 2015 saam met ’n Nigeriër naby Beaufort-Wes met tik van meer as R27 miljoen in hul motor in hegtenis geneem is, is verlede week in die Oudtshoorn Distrikshof tot 14 Mei uitgestel.
Die saak is ook volgens die streekhof-beheeraanklaer, Tommy Verreyne, vir verhoor na die streekhof in Beaufort-Wes oorgeplaas.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het die hof gevra om borgtog aan Benjamin Amalukwe te weier terwyl sy regsverteenwoordiger, Ben Ma-thewsen, versoek het dat borgtog in belang van geregtigheid wel toegestaan word.
Kol Johan Smith, hoof van die Wes-Kaapse Narkotikadepartement van die Polisie, het getuig dat Amalukwe nie oor ’n vaste adres beskik nie, sy getuienis aanpas en moontlik kan vlug.
Dit is die tweede keer dat hy om borgtog aansoek doen na die dood van streeklanddros Mark van Wyngaardt.
Sy medebeskuldigde, Nelson Matavela, het sy borgaansoekplanne laat vaar.
Die borgaansoek is deur landdros David Lackey van Kaapstad aangehoor.