Uitspraak oor gewese weermagdokter in Mei

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n dokter wat voorheen verbonde was aan die SANW Infan­te­rieskool op Oudtshoorn en tereg­staan op ’n klagte van verkragting en twee van seksuele aanranding, is Dinsdag in die Oudtshoorn Streekhof vir uitspraak tot 28 Mei uitgestel.

Danzil King se regsverteenwoordiger, adv Benito Metembo, het die hof versoek om sy kliënt vry te spreek omdat die staat nie ’n prima facie-saak teen hom het nie. Volgens hom het dr Charlston Dreyer getuig dat hy nie fout kan vind met die manier hoedat die beskuldigde die jong rekruut ondersoek het nie.

Die vrou het volgens Metembo vrywillig versoek dat die beskuldigde haar ondersoek en hy het gestop toe sy hom gevra het om met die vagina­le ondersoek te stop. Sy kon onder kruisverhoor nie verduidelik waarom sy nie om hulp geroep het indien sy verkrag sou geword het nie. Sy was ook gelukkig oor die toesluit van die deur vir haar eie privaatheid.

Wat die klagtes van seksuele aanranding betref het die tweede klaer ook getuig dat die deure van die spreekkamer vir haar eie privaatheid deur die beskuldigde gesluit is.

“Die beskuldigde het van die begin oop kaarte met die hof gespeel,” het Metembo betoog.

Die staatsaanklaer, Nadia le Roux, het gesê daar is genoegsame getuienis om King skuldig te bevind.

“Die getuienis van die twee klaers was goed en hulle is nie van stryk gebring tydens kruisondervraging nie. Hulle het geen motief gehad om die beskuldigde vals te beskuldig nie.”

King is uit op R5 000-borgtog.