Die ôl-Star Live Band van Oudtshoorn se Rubber Johnny, Vinzelle Damons, en Percy de Villiers oefen die afgelope Saterdag vir hul optredes by vanjaar se KKNK. Foto: Schalk le Roux
Deur Schalk le Roux
HY het met musiek grootgeword en het so saam-saam begin sing en praat, vertel Percy de Villiers, jong sanger van Oudtshoorn wat vanjaar by verskeie optredes by die KKNK betrokke is.
Die jaar toe Percy begin skoolgaan het, het hy saam met sy ouers, Bachus en Maria de Villiers, in die Silver Stars-koor begin sing. Sy pa wat in 2005 oorlede is, was die leier van dié gospelkoor.
Percy is Saterdagaand (31 Maart) te sien in Karoonag, ’n produksie van kontemporêre musiek op die Huisgenoot-verhoog, saam met Adam Tas, Refentse, Joshua na die Reën, Karin Kortjé, Caroline Grace (Brussow), Gail & Malcolm Arendse en Fat Man.
Percy open dié produksie met ’n solovertoning van drie liedjies, ’n Vrou wil dit hoor van Bobby van Jaarsveld, To good at Goodbyes van Sam Smith en 1001 Soene van Heinz Winckler. Die produksie begin om 19:30.
Percy tree ook vandag (Donderdag) vanaf 12:30 en môre (Vrydag) vanaf 14:00 op op die Castle Lager-verhoog saam met Rubber Johnny en hul orkes, die ôl-Star Live Band (Ol staan vir Oudtshoorn Local). Rubber Johnny belowe dat hy soos altyd die lagspiere gaan prikkel met sy buitengewone danspassies.
“As jy nog nie weet wie Rubber Johnny is, kom kyk gerus. Jy sal nie spyt wees nie,” sê Percy met ’n breë glimlag.
Die ander lede van die ôl-Star Live Band is Vinzelle Damons (stem), Maurice Wagenaar (stem), Granthom Booysen (tromme), Francois Freeks (klawerbord), Jermaine Moses (baskitaar) Jerome Lukas (saksofoon) en Franklin Peterson (kitaar) met DJ Buks die klankingenieur.
Rubber Johnny en Percy tree ook Maandag (2 April) vanaf 14:30 en Woensdag (4 April) vanaf 15:30 op die RSG-verhoog op.
Percy het sedert 2010 elke jaar by die KKNK opgetree in produksies op die ATKV Kontrei-verhoog en in Kaap Rapport Klein Karoo Klanke.
• Percy, ’n oud-leerder van Saturnus Primêr en Bridgton Sekondêr, vertel hy was vanaf kleintyd ’n aanhanger van die bekende gospelsanger Bella. Hy het baie van haar liedjies uit sy kop geken.
Toe Bella in 2004 op die Rec opgetree het, het Percy – wat toe so sewe jaar oud was – se onderwyseres hom soontoe gevat. “Ons het op die paviljoen gesit en Bella het op ’n verhoog op die rugbyveld opgetree. Ek het dit so baie geniet dat ek later op die gras reg langs die verhoog was. Bella het van my geweet en my toe genooi om van haar liedjies te kom sing.
“Toe sy weer sien, was ek met my derde liedjie besig en het ek eers opgehou toe sy aandui dis nou genoeg. Sy wou ook darem weer ’n kans kry. Ek kan rêrig sê Bella se gebaar om my te laat sing tydens haar konsert, het vir my baie beteken en selfvertroue gegee.”
Hy het daarna aan talentkompetisies begin deelneem soos die Dros Kids Super Stars waarin hy uiteindelik deurgedring het na die finale ronde by die Silver Lakes Dros in Pretoria.
In 2009 het Percy professioneel begin optree as deel van Paul Amas se groep, House of Entertainment, saam met onder andere Rubber Johnny.
Hy sê sy grootste optrede nog was in 2010 by die Victor Verster Gevangenis in die Paarl waar Nelson Mandela se vrylating herdenk is. Hy het die verhoog gedeel met kunstenaars soos Emo Adams en Kurt Darren, terwyl dit bygewoon is deur meer as 5 000 toeskouers.
• Rubber Johnny (29), sy regte naam is Jonathan Moos, het sy naam gekry vanweë sy energie, opgeruimdheid en soms rubberagtige dansbewegings.
Rubber Johnny vertel hy sing al van kindsbeen af. Hy het by die Laerskool Rooiheuwel en Bridgton Sekondêr skoolgegaan waar hy gereeld aan konserte deelgeneem het. “Ek hou daarvan om mense te laat lag, want ek is van nature ’n lawwe ou,” vertel hy.
Volgens Rubber Johnny kom sy humorsin van sy oorlede pa, Piet Moos.
Ná skool was hy ses jaar lank betrokke by die Kambro Diggers, wat ’n paar keer by die KKNK opgetree het. “My deelname daar was vir my baie lekker en het baie bygedra tot my ontwikkeling as vermaaklikheidskunstenaar,” vertel hy.
• Percy het ná skool in 2015 vir die graad LLB by die Universiteit van die Vrystaat (UV) ingeskryf. Hy het reeds sy derde jaar voltooi, maar weens finansiële oorwegings nie vanjaar ingeskryf nie. Hy beoog om volgende jaar sy studies deur die UV se e-leerfasiliteit te voltooi.
Volgens Percy wil hy ’n aanklaer word nadat hy sy studie voltooi het. Hy werk vakansies gereeld by die Oudtshoorn Landdroshof se staatsaanklaerskantore.