So maak mens ’n perfekte roosterkoek

Die kenners vertel

Janine Avontuur wys hoe om roosterkoek gaar te maak.

Janine Avontuur wys hoe om roosterkoek gaar te maak.

Elsie van Beling sê sy het grootgeword met roosterkoek en weet net hoe om dit lekker te maak.

Elsie van Beling sê sy het grootgeword met roosterkoek en weet net hoe om dit lekker te maak.

Roosterkoekkenners Bettie Prins en Richard Cooper. Foto’s: Ilze-Mari Gründling

Roosterkoekkenners Bettie Prins en Richard Cooper.  Foto’s: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
“DIT hang alles van jou hand af,” sê Aletta Mara Cooper, eienaar van AMC Roosterkoek en Deli op Oudtshoorn. Aletta was ’n paar van die kenners op die dorp by wie Die Hoorn gaan kers opsteek het oor die perfekte roosterkoek, of roosterbrood soos dit ook in dié streek bekend staan.

“Dit is die manier van die knie van die deeg wat ’n goeie roosterbrood sal maak of breek,” sê Aletta. Sy en haar man, Richard, ’n afgetrede weermagsjef, bedryf dié roosterkoekstalletjie die afgelope jaar en sewe maande.

Hul bakker, Bettie Prins, vertel dat sy elke dag die deeg by die stalletjie self maak.

“Jy gooi die meel, suurdeeg, ’n bietjie sout en ’n bietjie suiker by mekaar. Dan maak jy ’n gat in die middel van die mengsel en voeg jou water by. Net ’n bietjie – voeg die water stelselmatig by soos wat hy knie totdat dit droog geknie is. Ek hou daarvan om ’n bietjie olie in die skottel te sit sodat die deeg makliker met jou hande kan beweeg – op die einde moet dit amper soos koekdeeg lyk.”

Die Coopers gebruik net doringhout vir hul vuur. “Dit gee ’n ander smaak aan die roosterbrood,” sê Richard.
Hy sê ook dat ’n roosterkoek nie droog moet wees nie. “Baie kliënte vra dat die smoor ekstra loperig is omdat die brood dan ’n sousie het. Dit maak ’n lekker roosterbrood – as jy klaar geëet het, nog brood oor het en daar is nog sous oor.”

Shawn Stalmeester en Janine Avontuur van die roosterkoek en vetkoek-stalletjie voor die Queen’s Mall, sê hulle maak alles self, die deeg en die tamatiesmoor. “Ons koop net die bestanddele aan. Maar wat ons in die smoor en deeg sit, is ons geheim!” sê Shawn.

Volgens hom is doringhout ook die beste hout om te gebruik.

“Dit hou langer en maak lekker kole. Met dit kan ons verseker dat die roosterkoek elke keer perfek uitkom.”
Sy het grootgeword met roosterkoek en weet net hoe om dit lekker te maak, sê Elsie van Beling, eienaar van die Klein Begin-roosterbroodstalletjie in Voortrekkerweg, op die hoek van Hoogstraat.

Van Beling vertel dat sy alles self maak – tot haar bekende Hamburger-roosterbroodjie – ’n resep wat sy self ontwerp het toe sy vroeër jare by ’n slaghuis en deli gewerk het.

“Jy kry jou maalvleis, die tipe wat ek gebruik is my geheim! Dan vat ek brood wat al ’n bietjie styf is en vryf dit om krummels daarvan te kry. Voeg dit by die vleis. Dan voeg ek ook uie, groen soetrissie en blatjang by en dan my mengsel van speserye en kruie.”

Van Beling sê sy het in die verlede ook doringhout gebruik, maar dat sy deesdae eerder houtskool vir haar vuur gebruik.