Twee mans kry tronkstraf na huisbraak

Deur Garnett Wicomb
TWEE mans van De Rust met lang lyste van vorige veroordelings is in die Oudtshoorn Streekhof ge­straf vir huisbraak en diefstal.

André Jansen (30) en Clifton Damons (19), met onderskeidelik sewe en ses vorige veroordelings, is daar­aan skuldig bevind dat hulle by ’n stoor ingebreek en kraggereedskap ter waarde van meer as R2 500 gesteel het. Die gereedskap is egter vinnig deur die polisie teruggevind.

Streeklanddros JC Nortje het vir von­nis in ag geneem dat die twee mans skuldig gepleit en Damons ’n kleiner rol in die misdaad gespeel het. Jansen is tot vyf en Damons tot drie jaar tronkstraf gevonnis met opgeskorte vonnisse wat samelopend daarmee uitgedien kan word.